Pretoria. – Munisipale dienste het volgens die nasionale tesourie onbekostigbaar geword.
Dít is een van die redes waarom plaaslike owerhede sukkel om die geld in te vorder wat verbruikers hulle skuld, sê die tesourie in ’n verslag wat gister bekend gemaak is.
Uitstaande verbruikerskuld aan munisipaliteite het op 31 Maart R76,6 miljard beloop. Dit is R12,2 miljard meer as ’n jaar tevore, volgens die verslag oor munisipale inkomste en uitgawes teen die derde kwartaal van die munisipale boekjaar.
Huishoudings is die grootste sondaars en skuld munisipaliteite byna R50 miljard.
Van die R45 miljard wat verbruikers aan metrorade skuld, is byna ’n derde in Johannesburg gesetel. Sowat 78% van die R14,3 miljard wat verbruikers aan Johannesburg skuld, is langer as 90 dae uitstaande, wat beteken die moontlikheid dat dit ingevorder gaan word, is skraal.
Die tesourie sê die verlangsaming in die ekonomie en die groot styging in elektrisiteitstariewe het ’n negatiewe uitwerking op bekostigbaarheid en verbruikers se vermoë om hul munisipale rekening te betaal.
Of munisipaliteite begrip het vir verbruikers se beperkte betaalvermoë is egter te betwyfel. Die tesourie sê die agt metrorade se begrote inkomste vir die boekjaar tot einde Maart was 17,4% hoër as in die eerste drie kwartale van die vorige boekjaar. “Die toename is grootliks weens hoër eiendomsbelasting en tariewe, eerder as doeltreffender inkomstebestuur,” sê die tesourie.
Met ’n driekwart van die jaar agter die rug, het die metrorade maar 68% van hul begrote inkomste ingevorder. Ekurhuleni (72,6%) het die beste gevaar en Mangaung (56,9%) die swakste.
Landwyd het munisipaliteite in die derde kwartaal ’n invorderingskoers van 94,5% behaal. Dit is wel moontlik om ’n invorderingskoers van meer as 100% te behaal. Dít sou beteken dat die owerheid besig is om van sy agterstallige debiteure in te vorder.
Vir die hele boekjaar tot einde Maart was die nasionale invorderingskoers maar sowat 89%.
Dat munisipaliteit nie die geld wat aan hulle verskuldig is, invorder nie, raak oënskynlik hulle vermoë om ondernemings met wie hulle sake doen, tydig daarvoor te betaal.
In Gauteng en KwaZulu-Natal betaal munisipaliteite volgens die tesourie hul rekeninge binne 30 dae.
Maar in die Vrystaat en Limpopo is meer as die helfte van die rekeninge wat munisipaliteite moet betaal, al langer as 90 dae uitstaande, wat vir ondernemings wat met hulle sake doen, ernstige risiko inhou.