Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Net ’n pleister op die pyn

Deur: Mari Beukes 2012-07-19 21:30
Johannesburg. – Die laer rentekoers is net ’n pleister op verbruikers se pyn, maar gaan nie die ekonomie gesond maak nie, waarsku ekonome.

Die Reserwebank het ekonome gister onkant betrap deur die repokoers met 0,5 persentasiepunt te verlaag tot 5,5%.

Gill Marcus, president van die Reserwebank, het gesê die monetêrebeleidskomitee het in sy besluit baie ag geslaan op die kommer oor die uitwerking van die Europese skuldkrisis op die wêreld.

Sy het ook daarop gewys dat Suid-Afrika met dié koersverlaging in die voetspore van China, Brasilië en ander ontluikende lande volg wat dieselfde gedoen het.

“Die negatiewe invloed (van Europa) op Suid-Afrika sal waarskynlik erger word.

Die ongunstig vooruitsigte word versterk deur die brose tendens in plaas­like investering en verbruik,” het Marcus gesê.

Kevin Lings, ekonoom by Stanlib, meen egter ’n laer rentekoers sal nie regtig die ekonomie ’n hupstoot gee nie.

“Dit is eerder bedoel om die tempo waarin die ekonomie agteruitgaan, te laat afneem. Dit kan keer dat verbruikersvertroue verder versleg.”

Lings sê dit lyk asof die las om ekonomiese groei aan te wakker, nou net op die Reserwebank se skouers rus.

Gevolglik het hy in sy rentekoersaankondiging nie veel aandag aan inflasie gegee nie.

Die bank verwag nou dat die ekonomie vanjaar met 2,7% sal groei en dat die gemiddelde inflasiekoers vir vanjaar net 5,6% sal wees en nie 6% soos hy voorheen verwag het nie.

Dave Mohr, beleggingsekonoom by Citadel, sê Suid-Afrika voel reeds die impak van die Europese krisis.

“Daar is diepe kommer oor die impak van die Europese krisis op die wêreld en dit lyk of ons enigste verweer die rentekoers is.”

Mohr sê die regering het nie weer dieselfde beweegruimte as in 2008 om staatsbesteding op te stoot nie. ’n Laer rentekoers sal egter nie alleen die ekonomie aan die gang kan kry nie.

“Dit gaan nie die impak van Europa af verhinder nie. Dit kan net vir sommige huishoudings meer beweegruimte gee en ’n bietjie besteding aanwakker.

Dr. Michael Jordaan, uitvoerende hoof van First National Bank, het verbruikers ook gister aangemoedig om die laer rentekoers te gebruik om hul skuld weg te werk.

Jordaan waarsku dat ekonomiese toestande vanjaar moeilik sal bly. “Ek sal verbruikers aanraai om nie nuwe lenings aan te gaan net omdat rentekoerse hul goedgesind is nie.”

Annabel Bishop, ekonoom by Investec, sê die Reserwebank het genoeg oor inflasie gepraat om die moontlikheid van nóg ’n rentekoersverlaging oop te hou.

“Die Reserwebank fokus streng op groei en dit is gepas, gegewe dat inflasie binne die bank se teikenband is.”

Bishop sê nóg rentekoersverlagings deur sentrale banke wêreldwyd kan daarom vanjaar ook aanleiding gee tot verdere verlagings in Suid-Afrikaanse koerse.

Sy sê nóg ’n verlaging van 50 basispunte is daarom reeds in September moontlik.

Repokoers

Dié koers is die rentekoers waarteen die kommersiële banke soos Absa, FNB of Standard Bank geld van die Reserwebank kan leen.

Hierdie geld leen banke weer uit teen ’n hoër koers, naamlik die prima uitleenkoers.

Die prima uitleenkoers is die grondslag wat bepaal wat die rentekoers is wat individuele kliënte betaal. Net die beste kliënte betaal die prima uitleenkoers.

Die meeste bankkliënte betaal lenings terug teen meer as die prima uitleenkoers.

As jy ’n lening by die bank het, en die repokoers daal, dan daal die rentekoers wat die bank jou vra, dienooreenkomstig. 


«Terug