Kaapstad. – Provinsies het te veel alleen-seggenskap oor waar en hoe hulle hul begrotings bestee en dit raak hul ekonomiese ontwikkeling.
Dit sluit buitensporige besteding aan die “verkeerde” items in, sê die finansiële en fiskale kommissie (FFK) in sy nuutste aanbevelings oor die besteding van inkomste vir die 2013-’14-boekjaar. Hy het vir die eerste keer ’n ontleding ingesluit van provinsies en munisipaliteite se bydrae tot ekonomiese ontwikkeling en groei.
Volgens die nasionale tesourie kry provinsies 97% van hul begroting uit nasionale oordragte, waarvan die meeste onvoorwaardelik is. Die stand van provinsies is die afgelope twee weke in die kollig in die parlement.
Limpopo is een van dié wat deurloop nadat sy tesourie R2 miljard skuld aangegaan het wat hy nie kon betaal nie. Ondanks die nasionale tesourie se waarskuwings het sy besteding onverpoos voortgegaan, en daar is nog geen bewys dat dit enigsins tot dienslewering of ekonomiese groei bygedra het nie.
Die FFK sê hoewel die mandaat van die provinsies verskil van dié van die nasionale regering – die klem word op ontwikkeling geplaas en nie soseer op groei nie – kan hulle ekonomiese groei aandryf.
Die munisipaliteite bly die beste drywers van ekonomiese groei, maar volgens die FFK-verslag is die verhouding tussen besteding en ekonomiese groei by munisipaliteite swak.
Hoe minder afhanklik die plaaslike owerhede is van die nasionale regering om ’n inkomste te genereer, hoe meer kan hulle bydra tot ekonomiese groei, wys die FFK se navorsing.
Hoe minder seggenskap munisipaliteite het in die besteding van inkomste, hoe beter is dit vir die bevordering van ekonomiese groei en hoe laer is die vlakke van korrupsie.
Die FFK doen onafhanklike gespesialiseerde navorsing en aanbevelings oor die tesourie se verdeling van inkomste.