Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

R450 p/m vir werkloses?

Deur: Elma Kloppers 2012-12-21 09:34
Johannesburg. – Die regering se beplande werkloosheidstoelaag vir jong mense, wat ’n geraamde R30 miljard per jaar kan kos, kan ’n uitstekende beleidsmaatreël vir ekonomiese groei wees.

Dit sal waarskynlik ook ’n wesenlike uitwerking op armoede-verwante misdaad in die land hê, het dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer by PwC, gister aan Sake24 gesê.

City Press, susterkoerant van Sake24, het gister berig dat die ANC planne op die tafel het vir ’n werkloosheidstoelaag van R450 per persoon per maand.

Botha sê ’n soortgelyke poging was suksesvol in die buiteland. Brasilië het byvoorbeeld in 2005 ’n toelaag aan arm gesinne ingestel. “Dit het die ekonomie so verstewig dat ’n resessie byna afgeweer is en uiterste armoede in die land totaal uitgewis is.”

In Brasilië is 94% van die toelae aan kos bestee en dié land was slim genoeg om te sorg dat hy self in die hoër vraag na voedsel kon voorsien.

Botha sê as die R2,5 miljard per maand afkomstig van die toelae aan voedselprodukte bestee word wat plaaslik geproduseer is, is dit ’n waarborg vir werkskepping. “Die regering moet net in staat wees om in die vraag­toename te voorsien.”

Die groot vraag is of die regering ’n groter maatskaplike las kan bekostig.

Botha sê die verwagting is dat die ekonomie volgende jaar groei van sowat 3% gaan behaal, wat die belastingbasis gaan verbreed. Sedert die resessie is 500 000 werkgeleenthede geskep en as daar volgende jaar nog 500 000 werkgeleenthede geskep kan word, kan die regering dié toelaag bekostig.

Sy aanbeveling is dat dit aanvanklik met staatseffekte met ’n treffende naam soos “BIG (basic income grants) bonds” gefinansier word. “Die rentekoste van so ’n effek sal waarskynlik maklik betaalbaar wees uit die breër belastingbasis.”

Suid-Afrika het ’n reuse-werkloosheidsprobleem. Die amptelike syfer vir die einde van die derde kwartaal was 6,8 miljoen, wat 2,2 miljoen ontmoedigde werksoekers insluit.

Hulle het geen inkomste nie en Botha meen dís een van die redes waarom die regering sukkel om wet en orde te handhaaf. “Dié toelaag kan beskou word as ’n maatreël wat armoedeverwante misdaad in die land beduidend kan verlaag.”

Ál groter las op belastingbetalers

Die regering verwag dat die getal individue wat maatskaplike toelaes ontvang tot 16,8 miljoen sal toeneem in 2014, blyk uit ­Investec se jongste verslag oor die makro-ekonomiese vooruitsigte. Die totale koste van maatskaplike besoldiging verteenwoordig 57% van die regering se jaarlikse besteding en beloop R615,7 miljard. Die beplande werkloosheidstoelaag sal Suid-Afrikaners wat finansiële steun van die regering ontvang, tot 18 miljoen opstoot. Investec meen ’n verdere maatskap­like las op die land se belasting­betalers is onvolhoubaar.
Lees meer oor:    werkloosheid
«Terug