Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Drankwet: Reaksie gemeng

Deur: Hennie Duvenhage 2012-06-15 05:00
Kaapstad. – Die reaksie op die konsepwysigingswet op drankprodukte wissel van tevre­denheid in die wynbedryf tot beskuldigings deur vervaar­digers van “ale” dat daar probeer word om hulle uit die mark te druk.

Die voorgestelde wysigings gaan oor onder meer die regulering van die vervaardiging van gewone bier, tradisionele Afrika-bier, alkoholiese vrugtedrankies, druifbasisdrank, spiritusbasisdrank en ander gegiste drank.

Daar was die afgelope tyd pleidooie in die wynbedryf dat die Wet op Drankprodukte gewysig word om goedkoop ale-produkte van die mark te verwyder omdat dit met wyn vergelyk word en dit die beeld van wyn aantas, dit goedkoop is en bydra tot drankprobleme by ­laerinkomstegroepe.

Met die voorgestelde wetsveranderinge word die alkoholinhoud van ale-produkte tot 6% beperk. Sommige het ’n alkoholinhoud van tot 12%.

Hoewel dit nie in die voorgestelde wysigings opgeneem is nie, kan die minister van landbou, bosbou en visserye deur regulasies bepaal dat ale-produkte nie in goedkoop plastiekhouers verkoop mag word nie, maar wel onder druk in glasbottels met ’n perk op die grootte van die bottel.

Danie Cronje, direkteur van drankregsdienste van Cluver Markotter, sê die rede waarom bier, wat tot nou nie deur die betrokke wet beheer is nie, op die lys geplaas is, het te doen met die veiligheid van die publiek. Die regering kan vereistes stel waaraan bierprodukte moet voldoen, iets wat tans nie wetlik opdwingbaar is nie.

’n Ander rede is die skuiwergat wat dit gelaat het vir die vervaardiging van ale-produkte. Produsente het aangevoer dat die vervaardiging daarvan met die vervaardiging van bier vergelyk kan word.

By navraag het SABMiller gesê hy het kennis geneem van die voorgestelde wysigings aan die wet en bestudeer nog die dokument, waarin ook sekere vereistes vir die brou van bier gestel word. Die maatskappy beoog om kommentaar te lewer in die 60 dae wat die de­partement van landbou, bosbou en visserye daarvoor opsy gesit het.

Riaan Kruger, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba), sê die voorgestelde wetwysigings stem ooreen met voorstelle van die drankbedryf om die probleem met ales te ­bekamp. Kruger glo die beperking van 6% op die alkohol­inhoud sowel as die vereiste dat die produkte onder druk gebotteleer word, sal die probleem oplos.

Henk Bruwer, uitvoerende hoof van Wynkelders SA, is tevrede met die voorgestelde wysigings wat ales betref en glo dit sal “die smet uit die drankbedryf en die mark verwyder”. Hy beskryf dit as verantwoordelike wetgewing wat vertroue in die regering bewerk.

Kobus Nieuwoudt, voorsitter van die vereniging van ale-vervaardigers, sê die perk van 6% op die alkoholinhoud is belaglik. Hy beskryf dit as ’n poging om dié soort drank uit die mark te druk omdat dit ’n mededinger is.

Reynier Britz, eienaar van Cape’s Best, meen wat nou gaan gebeur, is dat mense pleks van ’n enkele bottel ale met ’n alkoholinhoud van 8% of 10% koop, nou twee bottels van 6% elk gaan koop. Hy verwag dat sy omset sal styg as die voorgestelde wysigings deurgevoer word.

Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, verwelkom die publikasie van die voorgestelde wetswysigings nadat langer as ’n jaar agter die skerms gewerk is om dit deur te voer.
 
Lees meer oor:    bier  |  wyn  |  alkohol  |  drank
«Terug