Die regering is bekommerd oor “onrealistiese” tariewe wat deur staatsondernemings aan ondernemings en huishoudings opgedwing word.
Ondersoek moet éérs ingestel word na die uitwerking van hoër geadministreerde pryse (soos elektrisiteit) voordat dit toegelaat word om ver bo inflasie te styg.
Dít was die mening van prof. Hlengiwe Mkhize, adjunk-minister vir ekonomiese ontwikkeling, in ’n toespraak tydens plaaslike regeringsweek wat in die nasionale raad van provinsies gehou is.
Mkhize sê die nasionale regering is bekommerd oor die tariewe wat staatsagentskappe – nie net plaaslike owerhede nie – aan ondernemings en huishoudings opdwing.
“Ja, ons het die geld nodig. Baie mense kan dit bekostig om te betaal. Maar ons moet bewus wees van hoe besluite om pryse of plaaslike belastings te verhoog ekonomiese bedrywighede, indiensneming en gelykheid beïnvloed.”
Hy het gesê impakstudies moet eers gedoen word om te bepaal wat die uitwerking is van geadministreerde pryse wat met meer as die inflasiekoers styg.
Sy opmerkings kom te midde van ’n nuwe aansoek deur Eskom om elektrisiteitstariewe te verhoog wat einde vandeesmaand by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien sal word.
Eskom wil in die vyf jaar van April 2013 tot einde Maart 2018 tariefverhogings van tussen 14,6% en 19% per jaar instel.
Groot kragverbruikers het reeds aangedui Eskom se jongste aansoek om ’n verhoging gaan ’n uiters nadelige uitwerking op ekonomiese groei hê.