Johannesburg. – Dit lyk nie of inisiatiewe soos dié van die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (Sasi) vrugte afwerp nie. Sasi het gister sy jaarlikse spaarveldtog – vanjaar sy 11de – van stapel gestuur.
Die jongste syfers dui egter aan dat verbruikers nog ver van spaarbewus is.
Suid-Afrika se spaarkoers, nou 16,3% van die land se bruto binnelandse produk (BBP), het in die afgelope dekade of wat nie verbeter nie. In 2001 was die spaarkoers 15,6%.
Die gemiddelde huishoudelike besparing as ’n persentasie van die BBP het nie net gedaal nie, maar huishoudings doen nou die teenoorgestelde van spaar.
Die huishoudelike spaarkoers is tans -0,2% van die BBP, teenoor 2001 se 0,8%.
Suid-Afrika vaar selfs slegter as die ander lede van die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië en China).
China se spaarkoers is 54%. Dié land, met sy eenkindbeleid en geen gewaarborgde staatspensioen nie, het waarskynlik meer motivering om te spaar, berig Moneyweb. Tog is die gemiddelde lone in China laer as in Suid-Afrika.
Cas Coovadia, hoof van die Bankvereniging van Suid-Afrika, sê terwyl strukturele probleme soos werkloosheid en armoede Suid-Afrika se spaarkoers afdruk, het ons mede-Brics-lande in baie gevalle soortgelyke probleme wat hulle verhinder om te spaar.
Prem Govender, voorsitter van Sasi, sê Suid-Afrikaners het ’n passiewe rol in die land se ekonomiese groei omdat hulle op die regering of familielede steun om uit ’n finansiële krisis te kom.
Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal in die nasionale tesourie, sê kwessies oor spaar bly ingewikkeld.
“As jy nie geld het nie, gaan jy nie spaar nie,” sê hy.
“Ons moet eers mense se onafhanklikheid verseker – deur werkskepping – voor ons hulle kan kry om te spaar.”
Hy sê die regering moet nog vorendag kom met ’n strategie om werkloses te help.