Johannesburg. – Die toenemende druk op verbruikers se geldsake het in die tweede kwartaal van vanjaar die sakevertroue van kleinhandelaars geknou. Die groei in verkoopsvolumes het skerp gedaal.
Die verkope van goedere in alle kategorieë (nie-duursame, semi-duursame en duursame goedere) het in die tweede kwartaal vir die heel eerste keer gelyktydig verlangsaam.
Derek Engelbrecht, hoof van die afdeling vir kleinhandel en verbruiksgoedere van Ernst & Young, sê die gelyktydige verlangsaming in alle kategorieë is ongeëwenaard.
Uit die vertrouensindeks wat deur Ernst & Young en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek saamgestel word, blyk dit sakevertroue onder kleinhandelaars het in die tweede kwartaal tot 39 punte gedaal, van 63 in die eerste kwartaal. Dit is die minste vertroue die afgelope twee jaar.
“Die irrasionele uitbundigheid van die vierde kwartaal van verlede jaar, toe verkope met 7,8% gestyg het, het in die tweede kwartaal opgedroog,” sê Engelbrecht.
Statistieke Suid-Afrika het eergister bekend gemaak dat kleinhandelverkope in April met net 1% gegroei het.
Engelbrecht sê kleinhandelaars voel die knyp waarin verbruikers is en verminder die bestellings wat hulle by groothandelaars en vervaardigers plaas in ’n poging om bedryfskapitaal en voorraad beter te bestuur.
Uit die peiling waaruit die vertrouensindeks saamgestel is, blyk dit dat die verkope van nie-duursame goedere (soos kos, drank, tabak en kosmetiekware) en duursame goedere (soos ysterware, verf, meubels en huishoudelike toebehore) in die tweede kwartaal meer verlangsaam het as die verkope van semi-duursame goedere (waaronder skoene en klere).
In die eerste kwartaal was die verkope van duursame goedere baie sterker as in die ander kategorieë, maar in die tweede kwartaal het die verkope van veral meubels en huishoudelike toestelle “tot stilstand gekom”.
Die meeste kleinhandelaars, veral in nie-duursame goedere, het aangedui dat die produksiekoste en herverkoopspryse skerp styg, terwyl die stygings in die pryse van kos en petrol die koopkrag van verbruikers verwater. Hulle skaal dus ook die aankope
van nie-duursame goedere af.
Die verkopers van semi-duursame goedere het aangedui dat die produksiekoste verlangsaam het ná skerp stygings die afgelope jaar in die prys van skoene en klere weens hoë katoenpryse, stygende lone in China en ’n verswakking in die waarde van die rand.
Engelbrecht verwag dat kleinhandelverkope in die res van die jaar verder sal verlangsaam omdat lone en salarisse in reële syfers nie veel gaan styg nie en hoër inflasie deurspoel na die pryse van verbruiksgoedere.