Kaapstad. – Die gewraakte Aarto-verkeersoortredingstelsel het verlede jaar Johannesburg ’n inkomste uit verkeersboetes van na raming R208 miljoen gekos.
Die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering (Salga) vra daarom dat die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) geskrap word in sy besprekingsdokument wat in die parlement ter tafel gelê is met die oog op plaaslike-regeringsweek, wat tans aan die gang is.
Volgens die dokument gaan Johannesburg na verwagting vir die boekjaar 2011-’12 ’n inkomste uit verkeersboetes van R252 miljoen kry – R208 miljoen minder as waarvoor hy “begroot” het.
Salga gebruik die Aarto-stelsel in sy besprekingsdokument as ’n voorbeeld oor hoe munisipaliteite sukkel om finansieel volhoubaar te wees.
Tot einde Maart vanjaar moes munisipaliteite meer as R1,1 miljard se verbruikerskuld (huishoudelik en van ondernemings en staatsdepartemente) van die R76,6?miljard wat vir dienste geskuld word, afskryf.
Aarto is in 1998 aanvaar, maar die strafpuntestelsel is nog nie ingestel nie.
Die wet is op ’n proefgrondslag in Johannesburg en Tshwane van krag met die doel om padveiligheid te verbeter.
Salga voer aan die totale inkomste van 2007-’08 tot 2011-’12 van byna R1,6 miljard sou beduidend meer gewees het was dit nie vir Aarto nie.
Die vereniging raam dat ’n Aarto-proeflopie vir die Ekurhuleni-metro ’n verlies van R50 miljoen kan beteken.
Ingevolge Aarto word die verkeersowerhede verplig om alle boetedokumente per geregistreerde pos te stuur.
Volgens Salga se raminge het dit Johannesburg in die 2011-’12-boekjaar nagenoeg R100 miljoen gekos.
Gary Ronald, woordvoerder van die Automobiel-Assosiasie, bevraagteken dit.
Hy het by navraag gesê volgens sy inligting word boetes steeds nie per geregistreerde pos gestuur nie.
“Ek vermoed die rede vir die ‘verlies’ aan inkomste is dat die verkeersowerhede buite die reg optree deur die boetes nie per geregistreerde pos te stuur nie. Dit word dus deur die publiek bevraagteken en nie betaal nie,” sê Ronald.
Hy sê behalwe die eerste kennisgewing wat uitgestuur word, betaal die publiek vir elke daaropvolgende kennisgewing en nie die munisipaliteit nie.
Ronald is ontsteld dat Salga in sy dokument noem daar word “begroot” vir verkeersboetes, omdat dít teen die gees van verbeterde padveiligheid is.
Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) is verantwoordelik vir die administrasie van Aarto.
Aarto moes reeds landwyd in werking gewees het, maar dit is uitgestel.