Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Swak krediet-aptyt kan koers laag hou

Deur: Elma Kloppers 2011-08-31 12:30
Johannesburg. - Verbruikers wat kniediep in die skuld is, bly versigtig om meer skuld te maak, veral in die lig van plaaslike en internasionale ekonomiese ontwikkelinge.

Die swakker aptyt vir krediet kan daartoe lei dat rentekoerse vir langer laer gaan bly, meen ekonome.

Uit die nuutste privatesektor-kredietverleningsyfers, wat gister deur die Reserwebank bekend gemaak is, blyk dat kredietverlening aan die private sektor in Julie 5,7% hoër was as in Julie verlede jaar. Dit is ’n matige verbetering van Junie se hersiene groeisyfer van 5,3% op ’n jaargrondslag.

Die groei in verbandvoorskotte, ’n kategorie wat histories teen gemiddeld meer as 20% op ’n jaargrondslag toe­geneem het, was in Julie 2,9% hoër as in Julie verlede jaar. Mnr. Freddie Mitchell, ekonoom van Efficient Group, sê dit is onveranderd van Junie en dit lyk asof verbruikers eerder hul skuld afbetaal as om nuwe skuld aan te gaan.

Mnr. Christo Luüs, ekonoom van Ecoquant, sê dit weerspieël ook dat verbruikers vanweë hul hoë skuldvlakke nie sommer by banke geholpe raak nie en dat hul vertroue broos is.

Die groei in die M3-geldvoorraad het in Julie tot 5,6% op ’n jaargrondslag verlangsaam van die groei van 6,1% in Junie. Op ’n maandgrondslag is groei van 1,7% in Julie aangeteken.

Me. Carmen Altenkirch en mnr. Dennis Dykes, ekonome van Nedbank, sê dié stel syfers sal nie ’n bron van kommer vir die Reserwebank wees nie omdat daar geen bewyse is van ’n sterk vraag na krediet van verbruikers nie.

Mnr. Johan Rossouw, ekonoom van Vunani Sekuriteite, sê die monetêre data is ’n ­ver­dere bewys van die volgehoue brose kredietherstel, waar hoë vlakke van skuld ’n demper plaas op verbruikers se aptyt vir krediet.

Hy sê dit regverdig ’n rentekoers-scenario van “laer vir langer.”

Nedbank hou steeds by die siening dat rentekoerse onveranderd gaan bly tot in Mei volgende jaar.
Sake
Lees meer oor:    skuld  |  krediet  |  verbruikers
«Terug