Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Te min krag plaas perk op groei

Deur: Nellie Brand-Jonker 2012-06-18 05:00
Kaapstad. – As maniere nie gevind word om die ekonomie te laat groei sonder om elektrisiteit te gebruik nie, sal dit moeilik wees om die ­reële ekonomie teen meer as 3% per jaar te laat groei.

Ian Liddle, beleggingshoof van die beleggingsbeheermaatskappy Allan Gray, het hier op ’n beleggingspraatjie gesê Eskom se kragverskaffing het sedert 1985 met minder as 3% per jaar toegeneem.

In dieselfde tyd het die reële bruto binnelandse produk (BBP) met 2,5% per jaar gegroei.

Hy glo Eskom se beperkte kragvoorsiening het ’n perk geplaas op ekonomiese groei.

Volgens Liddle gaan Eskom selfs met die twee nuwe steenkoolkragstasies wat in aanbou is teen 2020 sy kragvoorsiening met net sowat 2,7% per jaar kan verhoog.

“Dit bly minder as 3% per jaar en as ons nie maniere vind om die ekonomie te laat groei sonder om elektrisiteit te gebruik nie, gaan dit moeilik wees om die BBP in Suid-Afrika met meer as 3% per jaar te verhoog,” het hy gesê.

Liddle het gepraat oor wat hy glo mites is onder beleggers in Suid-Afrika – een daarvan is dat die ekonomie gesond is.

Die reële BBP het die afgelope dekade met net meer as 3% per jaar gegroei. Volgens hom het verbruikersbesteding in dié tydperk baie vinniger as die ekonomie gegroei.

Hy het gesê die baie sterk verbruikersekonomie van die afgelope dekade in Suid-Afrika is deur twee belangrike faktore ondersteun: die hoë en stygende hulpbronpryse en die invloei van buitelandse geld in beleggingsmarkte.

“Indien enige hiervan verwyder word, gaan dit ’n wesenlike skok vir die ekonomie en veral die verbruikersekonomie wees.”
In die afgelope jare het buitelanders teen $1 miljard per maand geld in Suid-Afrika ingebring, meestal vir die aandele- en later die effektemark.

Sedert demokratisering het die netto invloei van geld een keer opgedroog en met die finansiële krisis van 2008 is dit omgekeer in ’n netto uitvloei. Liddle het gesê albei kere dat dit gebeur het, was die rand onder druk.

Hy glo daar is ’n groter kans dat die rand verder gaan verswak teenoor die dollar as versterk.

Hy is ook skepties dat hulpbronpryse die opwaartse tendens van die afgelope dekade gaan voortsit.
Lees meer oor:    ekonomie  |  krag  |  elektrisiteit
«Terug