Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Te veel kaders kry ’n binnebaan

Deur: Jean-Marie de Waal 2012-06-12 05:00
Kaapstad. – “Kaderontplooiing” bly die doring in die vlees van die staatsdiens.

Só reageer adv. Paul Hoffman, hoof van die Instituut vir Verantwoordbaarheid, op die nuutste ontleding deur die kommissie vir staatsdiens en administrasie oor die stand van die provinsies se premierskantore.

Die nasionale tesourie lig die kwessie ook uit as ’n groot probleem, maar verwys daarna as die “politieke dinamiek” van aanstellings in provinsies.

Die nasionale regering se ingryping by sukkelende provinsies soos die Vrystaat, die Oos-Kaap, Gauteng en veral Limpopo is weer sedert verlede week onder die soeklig.

Die kabinet het in Desember verlede jaar vyf van Limpopo se provinsiale departemente onder regstreekse administrasie geplaas: gesondheid, vervoer, openbare werke, finansies en onderwys.

Hoffman glo die onderliggende probleem in die staatsdiens is dat amptenare aangestel word “om die party (ANC) te dien en nie die land nie”.

Geen ingryping in die provinsies sal help so lank kaderontplooiing stewig in die staatsdiens verskans is nie, glo hy.

Die kommissie se bevindinge na aanleiding van sy ontledings van die doeltreffendheid van die provinsies se premierskantore in die 2010-’11-boekjaar wys egter daar is plek-plek verbeteringe.

Dit bevindinge is gister bekend gemaak.

Die kommissie het gekyk na hoe die “waardes en beginsels” van die staatsdiens toegepas word soos dit in art. 195 van die Grondwet uiteengesit word. ’n Premierskantoor word as die politieke kern van ’n provinsiale regering beskou.

Van die kommerwekkende gebiede bly die ondersoekvermoë en die afhandeling van klagtes van korrupsie.

Aanstellings in die provinsies duur ook al hoe langer. Die kommissie beveel aan daar moet tydroosters ingestel word wat bepaal hoe lank dit mag neem om ’n pos te vul.

Die departement van die staatsdiens en administrasie het byvoorbeeld verlede week daarop gewys in Limpopo neem dit gemiddeld meer as drie jaar om ’n pos te vul.

Art. 195 (1) van die Grondwet meld onder meer die staatsdiens moet ’n hoë peil van professionele etiek bevorder en behou.
Hulpbronne moet doeltreffend en ekonomies aangewend word.

Die Grondwet bepaal ook die staatsdiens moet verteenwoordigend wees van die mense in Suid-Afrika, met indiensneming en personeelbestuur wat gegrond is op onder meer “vermoë”, maar wat daarop gemik is om die onregverdighede van die verlede reg te stel.

Ranglys
Beste en swakste premierskantore

0% tot 60% = swak tot so-so.
61% tot 100% = goed tot uitstekend.

* Wes-Kaap: 82%
* Gauteng: 77%
* Noord-Kaap: 64%
* Noordwes: 59%
* Mpumalanga: 59%
* Vrystaat: 56%
* Limpopo: 54%
* KwaZulu-Natal: 54%
* Oos-Kaap: 47%
 
Lees meer oor:    provinsies  |  staatsdiens  |  amptenare
«Terug