Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Toekoms lyk somberder

Deur: Mari Blumenthal 2012-12-21 11:33
Johannesburg. – Ekonome se verwagtinge vir Suid-Afrika het vanjaar deurgaans meer pessimisties geraak.

Die deelnemers aan Sake24 se Ekonoom van die Jaar-wedstryd het van Mei vanjaar elke maand hul ekonomiese groeiverwagtinge vir vanjaar en volgende jaar verlaag.

Ekonome het in Februarie vanjaar nog verwag dat die ekonomie vanjaar met 2,8% sou groei en volgende jaar met 3,4%.
Dié konsensusverwagtinge het egter teen Desember tot ­onderskeidelik 2,4% en 2,9% ­teruggesak.

Hoewel die ekonome in Desember taamlik seker kon wees oor vanjaar se groeikoers, verskil hulle steeds oor hoeveel beter die ekonomie volgende jaar gaan vaar.

Fanie Joubert van Unisa en Carmen Nel van Rand Merchant Bank meen die ekonomie gaan aanstaande jaar stadiger groei en hul vooruitskattings van onderskeidelik 1,5% en 2,2% is die laagste.

Dr. Roelof Botha van PwC verwag die sterkste groei van 4,1% en 18 uit die 33 deelnemers verwag groei van 3% of meer.
Die deelnemers is ook steeds bekommerd oor die groeiende tekort op die lopende rekening. Hul konsensusverwagting is dat dié tekort ’n kumulatiewe bedrag van R181,37 miljard vir 2012 sal beloop.

Die ekonome het in Februarie ’n tekort van slegs R118,63 miljard verwag, maar hul vooruitskattings het elke maand al hoe groter gerek.

Die kumulatiewe handels­tekort vir vanjaar het aan die einde van November tot ’n rekord van R104,6 miljard verbreed en ekonome is bekommerd dat dit verdere druk op die rand sal plaas.

Die deelnemers verwag die gemiddelde wisselkoers van die rand teenoor die dollar sal in die vierde kwartaal R8,67 wees.

Hul konsensus oor die wisselkoers het sedert Februarie met sowat 70c verswak en 22 deelnemers aan die wedstryd verwag dat die gemiddelde wisselkoers vir die vierde kwartaal R8,70 of swakker sal wees.

Die ekonome verwag dat die gemiddelde inflasiekoers vir volgende jaar byna dieselfde sal bly as vanjaar se 5,7%. ’n Swakker rand kan inflasie egter verder opjaag.

Die deelnemers moet elke maand 14 ekonomiese veranderlikes voorspel en dit word dan deur prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool, in konsensusramings verwerk.
Dié konsensusramings gee ’n aanduiding van die beste eko­nome in die land se verwagtinge van die ekonomie.
 
Lees meer oor:    ekonoom van die jaar
«Terug