Bloemfontein. – Suid-Afrika maak goeie vordering met die aanstelling van vroue in direksies – maar daar is nog ’n ver pad om te loop.
Dit blyk uit opnames soos PwC se jongste verslag oor direkteursvergoeding en die Sakevroue-vereniging van Suid-Afrika (BWA) se opname oor vroue in leierskap.
PwC se navorsing wys Suid-Afrika het meer vroue in direksies as lande soos Kanada en Brittanje.
Maar die BWA-sensus toon net 17,1% van alle direkteure en 5,5% van alle direksie-voorsitters in Suid-Afrika is vroue. In ’n sake-omgewing wat so divers soos Suid-Afrika s’n is, het dit egter goeie sakesin om verskeidenheid in die bestuurspan en direksie te bevorder.
“Die kwessie van geslagsverteenwoordiging is veel wyer as net voldoening aan voorskrifte, want hoe meer divers ’n raad is, hoe beter kan hy sy verpligtinge teenoor ’n uiteenlopende groep belanghebbendes nakom,” sê Parmi Natesan, senior spesialis in sakebeheer by die Instituut van Direkteure van Suider-Afrika (IoDSA).
Sy wys op verskeie internasionale studies wat ’n verband tussen verbeterde finansiële prestasie en geslagsdiversiteit bevind het.
“In ’n internasionale studie deur McKinsey is byvoorbeeld bevind dat bedryfsmarges en markkapitalisasie van maatskappye waar vroue goed verteenwoordig is, tot twee keer groter is as die maatskappye wat laer verteenwoordiging het.”
Gerald Seegers, direkteur van mensehulpbronne by PwC, sê die toename in die aantal vroue in direksies skep ’n wen-wen-situasie vir sake.
“Goed gebalanseerde direksies bring vernuwing in ’n maatskappy, kan prestasie verhoog, en produktiwiteit verbeter.”
PwC se jongste verslag oor direkteursvergoeding toon dat die getal vroue in uitvoerende rolle van 4,2% in 2011 tot 8% vanjaar toegeneem het.
Die groeigebiede is in die nywerheidsektor, waar vroueverteenwoordiging van 2% tot 9% opgeskiet het, en die finansiëledienste-sektor waar die persentasie vroue van 4% tot 13% vermeerder het.
“Dit is ’n bemoedigende styging, maar groot organisasies en maatskappye kan meer doen om hul denke te vernuwe en direksies te transformeer,” sê Seegers.
Hy wys daarop dat maatskappye moeite moet doen om toekomstige vroue-talent te kweek en belowende vroue te mentor.
Vroue self behoort ook meer te doen om hulle verkiesbaar te maak vir direkteursposte, sê Sandra Burmeister, uitvoerende hoof van die Landehlani-werwingsgroep.
“Die eerste stap is om die regte vaardighede te kweek, soos toepaslike werkondervinding, ’n grondige kennis van die bedryf, om ’n kenner op ’n spesialiteitsgebied te wees en om op die hoogte van die jongste vereistes oor korporatiewe beheer te wees.”
Sy sê baie direksielede sê hul waardevolste loopbaan-ondervinding was toe hulle as hoofde van afdelings gedwing is om spanne te beheer en strategies te dink.
Daarom is dit noodsaaklik vir vroue om uitvoerende ondervinding op te doen deur afdelings of filiale te bestuur.
“Spits jou aandag toe op die sukses van jou span. Dit is die hoeksteen van ’n suksesvolle loopbaan.”
Burmeister raai vroue in leiersposte ook aan om ondervinding op te doen deur vrywillig in die direksies van organisasies sonder winsoogmerk te dien.
“Neem die leiding deur spesiale projekte in jou gemeenskap en by jou werkplek aan te pak en onderskei jou op hierdie wyse as iemand wat strategies kan dink.”
Die kwessie van diversiteit in die raadsaal is nie net in Suid-Afrika ’n knelpunt nie. Die Europese Unie (EU) het onlangs sy raadpleging oor die EU-raamwerk vir korporatiewe bestuur uitgereik, en die verhoging van diversiteit in direksies is een van die kwessies wat bespreek word.
In Brittanje het die getal vroue in direksies toegeneem van 12,5% tot 15,6% nadat ’n teiken van ’n minimum van 25%-verteenwoordiging van vroue in direksies gestel is.
Seegers sê dit sal nie gepas wees as Suid-Afrika soortgelyke teikens stel nie.
“Daar is reeds verskeie wette in Suid-Afrika met soortgelyke doelwitte, soos die Wet op Gelyke Indiensneming en wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging.”
In vandag se mededingende wêreldmark sal Suid-Afrikaanse direksies moet kyk hoe hul eie diversiteit vergelyk met hul eweknieë s’n, sê Natesan.
“Dit mag dalk nodig wees dat hulle self teikens stel en soek vir geskikte kandidate uit groepe wat nie tradisioneel ’n voorkeurkeuse is nie.”
Terselfdertyd waarsku sy dat meriete die deurslaggewende faktor moet wees vir aanstellings.
“Aandeelhouers soek goeie prestasie van die maatskappye wat hulle besit, en dit beteken direksies moet gesonde besluite neem; gegrond op die werklikhede van vandag se komplekse en diverse markte. Verder wil hulle ook hê dat direksies hul verantwoordelikhede teenoor die gemeenskap nakom.”
Deur meer vroue in die direksies aan te stel, kan hierdie doelwitte bereik word, glo sy.