Daar is nie ’n vertrouensbreuk tussen die private sektor en die
regering nie, hoewel daar meningsverskille oor sekere aspekte soos
nasionalisering, grondhervorming en die voorgestelde arbeidswetgewing is.
Ook is daar steeds agterdog tussen verteenwoordigers van
georganiseerde sake en die regering en dít belemmer openlike kommunikasie en
samewerking en vertraag ekonomiese ontwikkeling in die land.
Dít is die siening van prof. Stef Coetzee, uitvoerende hoof van die
Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) wat aan die einde van die jaar die tuig
neerlê.
Hy het in ’n oop gesprek met Sake24 oor die jongste
spanning binne Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) en die verhouding van
georganiseerde sake met die regering gesels.
“Ek sit al amper vier jaar in Busa se raad en dien al twee jaar in
die bestuurskomitee. Oor verreweg die meeste van die sake waaroor ons binne Busa
gesels, is daar ooreenstemming. Onthou, Busa is ’n konfederasie wat
uiteenlopende marksegmente verteenwoordig en daar sal altyd meningsverskille
wees.
Een van dié meningsverskille is tans die opvolgdebat oor wie by
mnr. Jerry Vilakazi as uitvoerende hoof gaan oorneem. Die debat is aangevuur
deur mnr. Jimmy Manyi, omstrede hoof van die Black Management Forum (BMF) en
woordvoerder van die kabinet, wat namens ’n groep swart organisasies ’n lys name
aan Busa gegee het waaruit ’n nuwe uitvoerende hoof gekies moes word en daarop
aangedring het om ’n Busa-bestuursvergadering toe te spreek.
“Ja, ons het vir Manyi ’n spreekbeurt (tydens ’n
bestuursvergadering wat hieroor moes besluit) gegee soos die media berig het.
Wat egter nie berig is nie, is dat die hele bestuurspan, buiten een individu,
Manyi se lys verwerp het.”
Coetzee voeg by dat dit jammer sou wees as Busa oor dié
aangeleentheid skeur omdat die organisasie ’n kritieke rol in Nedlac en
regstreekse onderhandeling met die regering speel.
“Suid-Afrika is ’n komplekse land. Net soos die politieke bestel is
sake kompleks, geweldig kompleks. Soos die Duitsers sê, dis nie ‘einfach’ nie,
dis nie eenvoudig nie. Busa verteenwoordig uiteenlopende belangegroepe binne die
georganiseerde sakesektor.”
Dis uiters belangrik dat daar eenheid in Busa is omdat dit in die
regering se oë ’n verenigde stem van georganiseerde sake in Suid-Afrika is.
Coetzee erken egter dat dié organisasie nie so doeltreffend is as wat dit kan
wees nie – ’n deel van die probleem is hulpbronne.
Coetzee was in 2008 lid van ’n Kamsa-afvaardiging wat die Deense
eweknie van Busa, Danish Industry, ontmoet het.
“Ek was verstom oor die deskundigheid binne dié organisasie. Daar
is spesialiskennis in dié organisasie wat die liggaam in staat stel om
spesialisdienste aan sy lede te lewer. Die dilemma is dat Busa nie oor dieselfde
vlak van kundigheid beskik nie.”
Hy sê een van die grondliggende redes vir dié tekort aan geld en
mense is die gefragmenteerde steunbasisse van die verskillende
sakekamerbewegings.
“Wat die sakekamerbewegings betref, het dorpe dikwels verskillende
sakekamers of sakeverenigings, en daar is verskeie oorkoepelende liggame
nasionaal. Dít maak dit duur.
Verhouding tussen georganiseerde sake en die
regering
Ondanks ’n skynbare wantroue tussen die private sektor en die
regering sê Coetzee dat daar groter konsultasie en interaksie tussen die partye
is as waarvoor daar erkenning gegee word. Hy voeg egter by dat dit baie beter
kan wees.
Coetzee, wat by verskeie geleenthede na homself as ’n
ontwikkelingsekonoom verwys, sê daar is veral onsekerheid oor die regering se
strewe na ’n ontwikkelingstaat.
“Die regering wil ’n baie sterk sentrale staat hê wat alles beheer.
Ek en ander meen dat ons eintlik veel sterker na ’n federale staat moet beweeg,
waar ons op ’n gedesentraliseerde grondslag werk en dinge doen, en waar daar ’n
balans tussen die sentrale en plaaslike besluitneming is.”
Die regering se aanslag bring ook mee dat daar nie ’n gedeelde
visie tussen die private sektor en die regering is nie.
“Ek was in die jare negentig in Winnipeg, Manitoba in Kanada waar
ek met regeringslui, sakelui, nie-regeringsorganisasies en akademici gesels het
en ek was geweldig beïndruk om uit almal se monde dieselfde
ontwikkelingstrategie te hoor: ’n strategie met sinergie.
“Suid-Afrika gaan nie oor sinergie nie. In Winnipeg is alle
belanghebbers deel van die proses om die strategie te bepaal en dit gee hulle
eienaarskap van dié planne. In Suid-Afrika word die nuwe groeiplan en die
beplanningskommissie se dokumente saamgestel en eers dan word met ander partye
soos die private sektor gesels.
“Daar is gevolglik in Suid-Afrika nie eienaarskap van die regering
se planne nie, veral nie van die nuwe nasionale groeiplan nie.”
Coetzee sê daar heers ’n gebrek aan vertroue tussen plaaslike
owerhede en georganiseerde sake op die plaaslike vlak waar die partye baie nader
aan mekaar leef.
“Die verhouding tussen die private sektor en die plaaslike owerhede
is nie sleg nie, maar daar is nie samewerking nie. Daar is geweldige agterdog.
Dit is diep in ons samelewing ingewortel. Dit verg baie moeite en
deursettingsvermoë om ’n fasiliteringsrol te vervul sodat samewerking kan
toeneem.”
Hy voeg by dat een van die probleme is dat die owerheid nie altyd
verstaan hoe die private sektor werk nie.
“Die agterdog belemmer ook hoe partye met mekaar kommunikeer en dit
verg geweldig tyd en deursettingsvermoë om vordering te maak.”
“Die private sektor kan ook meer uit die kassie dink...Ek dink soms
die private sektor het die rustelose bondel energie, innoverende denke en
leierskap verloor wat ons voor en ná die oorgang na demokrasie gehad het. Daarom
verloor hy ook invloed by die regering.”