Johannesburg. – Inflasie sal waarskynlik nie die enigste oorweging wees wanneer die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêrebeleidskomitee oor toekomstige rentekoersbewegings besluit nie.
Noudat dit lyk asof inflasie grootliks in bedwang kom, gaan die komitee se aandag waarskynlik op die groeivooruitsigte vir die ekonomie wees.
’n Faktor wat toenemend op die voorgrond kom, is die gevolge van internasionale gebeure op die lopende rekening van die betalingsbalans.
Dit blyk ook die onderliggende tema te wees in die nuutste voorspellings van die 33 ekonome wat vanjaar aan Sake24 se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem.
Die ekonome moet elke maand 14 ekonomiese veranderlikes voorspel en dit word dan deur prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool in konsensusramings verwerk.
Dié konsensusramings gee ’n aanduiding van wat die beste ekonome in die land dink met die ekonomie gaan gebeur.
Hiervolgens lyk dit nie of die ekonome dink rentekoerse gaan weer styg nie, want inflasie is oënskynlik in bedwang.
Maar terselfdertyd pas hulle elke maand hul voorspellings vir ekonomiese groei afwaarts aan, terwyl die tekort op die lopende rekening elke maand hoër geraam word.
Toe die rentekoersverlaging in Julie aangekondig is, het baie van die ekonome reeds hul vorige ramings gedoen.
Dié maand se voorspellings is die eerste aanduiding van wat hulle dink nou met rentekoerse gaan gebeur.
Hiervolgens meen 23 van die 33 ekonome tans dat die prima koers in die laaste kwartaal van vanjaar onveranderd op 8,5% gaan wees, terwyl 5 ’n laer koers voorspel. In Februarie was die konsensusraming nog 9,13%.
Wat betref die inflasiekoers is die konsensusraming die afgelope paar maande ook telkens laer – van 6,16% in Maart tot 5,72% vandeesmaand.
Dit is die tweede maand dat die ekonome voorspel dat inflasie binne die Reserwebank se teikenband gaan wees.
Die slegte nuus is dat die ekonome elke maand meer negatief oor die land se groeivooruitsigte is.
Die nuutste konsensusraming is groei van 2,58%, teenoor 2,8% in April.
Die swakker groeivooruitsigte spruit uit die internasionale ekonomiese situasie, met vrese dat die probleme in Europa en swakker groeivooruitsigte in China ’n negatiewe invloed op Suid-Afrika se uitvoer gaan hê.
Suid-Afrika handhaaf al ’n hele paar maande ’n negatiewe handelsbalans, wat steeds groter word en groot druk op die lopende rekening plaas.
Hoe groot die druk is, blyk daaruit dat die ekonome nou ’n tekort van R131,56 miljard voorspel teenoor Februarie se raming van R118,63 miljard.
Sewe van die ekonome meen selfs dat die tekort tot meer as R150 miljard gaan toeneem.
Suid-Afrika het tot dusver nie probleme gehad om die tekort te finansier nie, want beleggers belê steeds op groot skaal in Suid-Afrika en ander ontwikkelende lande omdat die opbrengskoerse hoër as in die ontwikkelde wêreld is.
Die feit bly staan dat die invloei van kapitaal enige tyd kan omswaai, veral as verlede week se gebeure by Marikana die indruk wek dat Suid-Afrika onstabiel raak.
Dan sal hoër rentekoerse nodig wees om buitelandse beleggers te lok om die groter wordende tekort op die lopende rekening te finansier