Suid-Afrikaanse verbruikers moenie sommer glo ’n produk is “organies”, “omgewingsvriendelik”, “natuurlik”, “energie-doeltreffend”, “koolstofneutraal” of selfs net “groen” nie. Só waarsku die regsfirma Adams & Adams te midde van die groeiende vraag en aanbod van sogenaamde “groenprodukte” die afgelope jare.
Me. Charné le Roux, ’n vennoot by Adams & Adams, sê in ’n skrywe oor dié aangeleentheid dat regstreekse regulasies en riglyne oor die etikettering van allerlei “groenprodukte” nog in sekere gevalle ontbreek. Dan rus die verantwoordelikheid by verbruikers om die gebruik van dié groenetikette te polisieer. Soos die vraag na groenprodukte toeneem, neem die bemarkingsfoefies toe.
Sy verwys na ’n studie van die aanlyn-ensiklopedie Enviropaedia wat op grond van vorige studies in 2011 getoon het 64% van Amerikaners glo nie meer die bemarking oor volhoubare produkte nie. In Suid-Afrika het ’n volhoubaarheidsopname deur Ogilvy Earth SA vejaar gewys plaaslike verbruikers het ’n hoë vlak van “groenbewustheid”, maar net 18,3% van Suid-Afrikaners vertrou ’n maatskappy se “groengetuigskrifte”.
Hoewel die departement van gesondheid onlangs nuwe regulasies oor die etikettering en bemarking van voedsel gepubliseer het ingevolge gesondheidsveiligheidswetgewing, word begrippe soos “vrylopend” en “organies” nie voldoende deur die regulasies omskryf nie. Le Roux sê met die gebruik van die woord “organies”, wat deesdae vir soveel voedselsoorte gebruik word, bestaan ’n klomp leemtes.
Die departement van landbou is verantwoordelik vir die publisering van regulasies oor organiese produkte, maar die afhandeling van die wysigingswetsontwerp op landbouprodukte-standaarde sloer nog. Hoewel daar wel wetgewing is waarmee probeer word om te verhoed dat valse bewerings oor voedselprodukte gemaak word, glo Le Roux dit bly moeilik om te toets of ’n bewering dat ’n produk “organies” is, juis of misleidend is omdat daar nie riglyne bestaan hiervoor nie.
Verbruikers kan hul ook wend tot die Wet op Verbruikersbeskerming. Le Roux glo hoewel dit lyk asof verbruikers beskerm word teen “misleidende omgewingsgetuigskrifte”, is daar min riglyne oor hoe besondere woorde, soos “organies” en “natuurlik”, gebruik mag word.