Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Sharemax-adviseur moet geld terugbetaal

Deur: Adri van Zyl 2012-08-19 05:00
Johannesburg. – Nóg ’n finansiële adviseur is deur die ombudsman vir finansiële tussengangers en adviesdienste (Fais) gelas om geld terug te betaal aan ’n afgetrede egpaar wat op sy aanbeveling geld in The Villa-ontwikkeling van Sharemax belê het.

Noluntu Bam, die Fais-ombudsman, het gelas dat Christoffel Johannes Nel R320 000 terugbetaal aan ’n egpaar van KwaZulu-Natal.

Dié egpaar, onderskeidelik 71 en 68 jaar oud, het in April 2010 op aanbeveling van Nel in The Villa belê.

Die bedrag verteenwoordig sowat 50% van hul aftreekapitaal en hulle is van die inkomste daarop afhanklik vir hul daaglikse bestaansuitgawes.

Luidens die klagte wat by die ombudsman se kantoor ingedien is, is The Villa aan hulle voorgehou as ’n “belegging met geen risiko nie wat ’n hoër maandelikse inkomste lewer”.

Bam het bevind dat Nel nie ge­lisensieer was om beleggings in die ongenoteerde aandele en skuldbriewe van The Villa te verkoop nie en ook nie die egpaar bewus gemaak het van die risiko’s van die belegging nie.

Nel het R21 188 aan kommissie verdien, en dit is ook nie aan sy kliënte geopenbaar soos wat die Fais-wet vereis nie.

Nel het sewe dae nadat hy die geld van die egpaar in The Villa belê het, by ’n ander finansiële adviseur wat ingevolge sy lisensievoorwaardes wel beleggings in The Villa kon bemark, aansoek gedoen om as sy verteenwoordiger te mag optree.

Nel het al die klagte teen hom ontken, maar dit is deur Bam verwerp.

Nog 'n saak

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het einde verlede maand ’n saak aangehoor waarin ’n finansiële adviseur van Edenvale poog om die ombudsman vir ­finansiële adviseurs en tussengangerdienste te verbied om beslissings teen hom uit te vaardig om beleggers se geld terug te betaal.

Deeb Risk voer aan dat die ombudsman nie die ­jurisdiksie het om oor die betrokke bedrae te beslis nie en nie regverdige prosedures volg in die beslissings nie.

Die ombudsman het beslis dat Risk altesame R3,08 miljoen moet terugbetaal aan vyf beleggers wat op sy advies geld in die Sharemax-sindikasies
belê het.

Uitspraak is voorbehou en word binnekort verwag.
Lees meer oor:    fais  |  ombud  |  sharemax
«Terug