Johannesburg. – ’n Samevloeiing van faktore sal daartoe lei dat die huismark sy sukkel-trant sedert die ekonomiese afswaai vir nog ten minste ’n paar jaar sal voortsit.
“Daar is tans meer faktore wat huispryse kan demp en afdruk as faktore wat ’n herstel in huispryse kan stu,” sê Erwin Rode, eiendomswaardeerder en -ekonoom van Rode & Genote.
Onder dié faktore tel verbruikersinflasie wat ongemaklik naby aan die boonste perk van die teikenband is, wat die hoop op rentekoersverlagings in die nabye toekoms verminder. Hy sê verder kan die swakker ekonomiese groei op ’n breë grondslag die vooruitsigte vir werkskepping en groei in besteebare inkomste verydel. Dan is daar ook die skuldvlakke van huishoudings wat hardnekkig hoog bly, asook banke se strenger kredietkriteria vir verbruikers.
Volgens Rode is reële huispryse (inflasie-aangepas) steeds hoog en het die nodige afwaartse regstelling nog nie ten volle plaasgevind nie, wat beteken die huismark bly op ’n glybaan van dalende reële pryse. Dit sal uiters lae nominale prysgroei tot gevolg hê.
Dié faktore oorskadu die enigste ligpunt vir die huismark – die hernieude groei in die waarde van nuwe huislenings wat toegestaan word. Dié siening strook met die onlangse resultate van die banke se huisprysindekse.
Volgens First National Bank (FNB) se indeks was reële huispryse in Oktober vanjaar 3% laer as ’n jaar tevore. Van Februarie 2008 tot Oktober vanjaar was die kumulatiewe daling in reële huispryse 18,9%. Prysvlakke is egter steeds 58% hoër as in 2000 toe die FNB-huisprysindeks begin is.
Nominale huisprysgroei het in November tot 0,5% op ’n jaargrondslag verlangsaam van ’n hersiene 2,5% in Oktober.
Dié huis in die gesogte Yana-landgoed in Morningside word deur RE/MAX teen R5,7 miljoen bemark.

Foto: VERSKAF
Dié koloniale woning in die boomryke Kloof naby Durban word deur Re/Max bemark teen R6,9 miljoen.

Foto: VERSKAF