Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Eiendomsagente: Sekere gebiede is resessie-bestand

Deur: Elma Kloppers 2012-12-22 23:01
’n Ligpunt in die somber huismark-prentjie is dat van die groot eiendomsagente-groepe vanjaar ’n beter jaar beleef het as verlede jaar. Samuel Seeff, voorsitter van Seeff Property, sê die groep het ’n robuuste jaar agter die blad, insluitende 20 verkope in die mark met pryse van R20 miljoen en hoër. Dié verkope was grootliks aan die Atlantiese kus, waar tot R50 miljoen behaal is.

Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van Pam Golding Eiendomme (PGE), sê in die jongste uitgawe van die groep se tydskrif Intellectual Property sekere gebiede kom resessie-bestand voor, ondanks die trae ekonomie, politieke onsekerheid en die stygende kostedruk op huishoudings. Uit PGE se perspektief is die meeste verkope in die prysklas tussen R800 000 en R3 miljoen. Tussen R6 miljoen en R12 miljoen is verkope bestendig. Verskeie gebiede in Pretoria toon tekens van ’n herstel en eiendomme van tussen R1 miljoen en R2 miljoen is sterk in aanvraag.

Adrian Goslett, uitvoerende hoof van Re/Max Suider-Afrika, sê in Morningside in Sandton het veral deeltiteleenhede die afgelope 12 maande goed gevaar – 264 deeltiteleenhede en 83 vrystaande huise is verkoop. Goslett sê die meerderheid van die vrystaande huise is teen R3 miljoen en meer verkoop en die pryse van deel­titeleenhede het tussen R800 000 en R1,5 miljoen gewissel.

Huise in die ­gesogte Kloof naby Durban het merkwaardige groei ervaar, sê Goslett. Die prys van ’n ­gemiddelde vrystaande huis het in 2012 op R1,729 miljoen gestaan teenoor R975 000 in 2004.
 


Dié weelderige woning in Sandhurst, ontwerp deur die ­bekende argitek Johan Slee, word deur Seeff Sandton teen R45 miljoen bemark. Dié eiendomsagentegroep meen 2012 was ’n beter jaar as verlede jaar.




Lees meer oor:    eiendom  |  huispryse
«Terug