Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Growthpoint koop groen-kantore

Deur: Elma Kloppers 2012-07-03 02:06
Johannesburg. – Die genoteerde eiendomsreus Growthpoint is op ’n missie om sy eiendomsportefeulje te vergroen.

Hy het ’n nuwe prima kantoorgebou met groen-kenmerke teen R210 miljoen in die groeinodus Menlyn in Pretoria gekoop.

Die gebou, Menlyn Corner, op die hoek van Atterburyweg en Loislaan, is langs Menlyn Square, wat Growthpoint ook besit.

Die maatskappy het bates van meer as R50 miljard in Suid-Afrika en in Australië. Sy Suid-Afrikaanse bates beloop R33,7 miljard.

Twee van Growthpoint se kantoorontwikkelings het vierster-groen-graderings van die Suid-Afrikaanse Raad vir Groenbou verwerf.

Hy hoop om ook groen-graderings vir ’n verdere vyf ontwikkelings te verwerf.

Rudolf Pienaar, Growthpoint se streekdirekteur vir kantore, sê met die verkryging kan die maatskappy sy strewe na omgewingsvriendelike geboue en volhoubare ontwikkeling voortsit.

Energiedoeltreffende kenmerke van die gebou sluit in ’n spe­siaal ontwerpte glasfasade, temperatuurbeheer en ’n lugverkoelingstelsel wat in klein gebiede geaktiveer kan word.

Die gebou gaan ook aan die nuwe energie-standaard voldoen.

Debbie Theron van Growth­point se kantoorafdeling sê Menlyn is ’n belangrike kommersiële groeigebied wat vinnig besig is om ’n finansiële spilpunt te word.

Bouwerk het laat verlede jaar begin en sal vroeg volgende jaar voltooi word.

Growthpoint het onlangs R45 miljoen bestee om Adcock Ingram se hoofkantoor en ­pakhuis in Midrand uit te brei en omgewingsvriendeliker te maak.

Die uitbreiding het nuwe kantoorruimte van 2 500 m² behels bykomend tot die bestaande 19 000 m² van die eiendom en nog laaiplekke by die pakhuis.

Engelbert Binedell, Growth-point se streeksdirekteur vir nywerheidseiendom, sê wanneer groei geïntegreer word, is die uitbreiding van geriewe aantrekliker as om na ’n groter perseel te verhuis.

“Die opgradering kan pasgemaak word vir die huurder se behoeftes.”

In dié geval het Growthpoint die maatskappy gehelp om sy hoofkantoor in ’n omgewingsvriendeliker en energie-doeltreffender gebou om te skakel wat die elektrisiteitskoste verlaag het, sê hy.
 
«Terug