Johannesburg. – Die genoteerde IFA Hotels & Resorts het ’n aanbod vir sy belang van 37,33% in die geskiedkundige Boschendal-wynlandgoed ontvang, wat hy nie gaan weier nie.
Boschendal, wat oor 2 240 ha strek in die Franschhoek-vallei in die Wes-Kaap, is een van die gesogste wynlandgoedere ter wêreld en sy erfenis dateer vanaf 1685.
IFA het Vrydag in ’n Sens-aankondiging bekend gemaak dat die aanbod van Canombys Limited om sy belang teen R80 miljoen kontant te koop, aantreklik en in die beste belang van IFA-aandeelhouers is.
Die belang van 37,33% verteenwoordig 1 029 786 gewone aandele in Boschendal.
Volgens IFA sal die direksie dit versigtig oorweeg hoe om die opbrengs van die transaksie te gebruik om die waarde vir aandeelhouers te verhoog.
Die oorblywende aandeelhouding in Boschendal word deur JCI Investment Finance gehou.
Die transaksie vereis die goedkeuring van IFA se aandeelhouers.
Daar word tans ’n ontwikkeling vir gemengde gebruik op die Boschendal-landgoed beplan.
Dit sluit in ’n luukse aftree-ontwikkeling met 500 eenhede, ’n boetiekhotel en ander residensiële eiendom.
Die ontwikkelingsproses word al ’n geruime tyd deur verskeie kwessies gekortwiek, onder meer die omskakeling van landbougrond na grond vir residensiële ontwikkeling en die kapsie van erfenisinstellings teen die ontwikkeling.
Dit is die tweede keer die afgelope jaar dat ’n aanbod vir die historiese landgoed gemaak word.
In Julie verlede jaar het IFA en JCI bekendgemaak dat ’n aanbod van Cinmark 27 ontvang is om die totale wynlandgoed vir R700 miljoen te koop.
Die transaksie het deur die mat geval nadat die koper nie daarin kon slaag om die verkopers van ’n bankwaarborg vir die koopsom te voorsien nie.
IFA, wat ook die luukse Zimbali-kusoord aan die Noordkus van KwaZulu-Natal besit, het Vrydag sy omsigtigheidsaankondiging hernieu.

’n Lugfoto van die geskiedkundige Boschendal-wynlandgoed in die Franschhoek-vallei in die Wes-Kaap. IFA Hotels & Resorts gaan sy belang van 37,33% in die landgoed vir R80 miljoen verkoop.