Johannesburg. – Ondanks al sy akademiese en militêre prestasies moes dr. Sedise Moseneke eers ’n jaar lank sy slag as tamatieboer wys om tot die onderneming van sy bekende familie toegelaat te word.
Dié tandarts het spesifiek tamaties gekies om op die familieplaas noord van Pretoria te kweek omdat die vraag daarna in daardie stadium uitstekend was. Hy was binne agt maande winsgewend.
Moseneke, uitvoerende hoof van Encha Properties, die eiendomsafdeling van die gediversifiseerde Encha Group, is die seun van adjunkhoofregter Dikgang Moseneke.
Die 36-jarige Moseneke is onlangs as president van die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Veesa) aangewys, die jongste president in sy geskiedenis van 44 jaar.
Die Encha Group, wat belange het in onder meer die tegnologie-, olie- en energiesektor, is in die laat 1990’s deur Tiego Moseneke, die regter se broer, gevestig.
Moseneke sê die leerskool op die plaas was die ideale oorgang tot die korporatiewe wêreld en het hom alles geleer, van ondernemingsbeplanning tot hoe ’n inkomstestaat werk.
Alle familielede wat ’n pos in die familie-onderneming wil losslaan, móét deur die leerskool gaan en met uitvoerbare, volhoubare idees vorendag kom.
Hy het hom in 2004 by die familie-onderneming aangesluit nadat hy drie jaar as tandarts by 1 Militêre Hospitaal gepraktiseer het.
In sy tyd in die weermag het die luitenant ook ’n draai in Burundi gemaak as lid van ’n vredesmissie.
“Dit het my met nuwe oë na Suid-Afrika laat kyk en my laat besef hoe geseënd ons is,” sê hy.
In daardie stadium het eiendom as ’n bateklas groot opgang begin maak en hy het besluit dit is tyd vir ’n loopbaanverandering: van tandarts tot eiendomsentrepreneur.
Hy het uit die weermag bedank en sy leerskool op die plaas ondergaan, en vandag staan hy aan die hoof van ’n maatskappy met eiendomsbates landwyd van R1,6 miljard.
Dit is hoofsaaklik middestedelike kantore met regeringshuurders.
Die oogmerk is om die portefeulje uit te brei tot sowat R3 miljard en dit dan te noteer.
Hoewel dit ’n langtermynvisie is, vorder dinge nou so vinnig dat Encha Properties waarskynlik die eerste eiendomsbeleggingstrust (reit) gaan wees wat in die land noteer, sê hy.
Die Suid-Afrikaanse genoteerde-eiendomsektor wil volgende jaar na ’n reit-struktuur oorskakel om meer in ooreenstemming te kom met internasionale norme.
“As ’n maatskappy in private besit bly, is dit nie moontlik om so vinnig uit te brei as wanneer hy toegang tot kapitaalmarkte het nie.”
Moseneke is vol vertroue dat die reit-struktuur internasionale beleggings beduidend sal aanmoedig.
As president van Veesa is daar verskeie kwessies waaraan hy vanjaar wil aandag gee, onder meer die bevordering van hervorming in die eiendomsektor.
“Die sektor moet eenvormig saamstaan om die proses te bespoedig.”
Hy sê ook die huidige verhuringsbeleid het tot verskeie twyfelagtige transaksies gelei wat die reputasie van die bedryf aangetas het.
“Om dit reg te stel, is die ontwikkeling van vaardighede van kernbelang, veral by die departement van openbare werke.”

Dr. Sedise Moseneke. Foto: Loanna Hoffmann
Wie is Sedise Moseneke?Hoewel sy pa, adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, nie by die familie-onderneming betrokke is nie, bly hy vir Moseneke jr. ’n rolmodel wat ’n enorme impak op sy loopbaankeuses het.
Hy is getroud met Ulime en hulle het twee kinders. Sy vrou, ook ’n tandarts, staan aan die hoof van Encha se gesondheidsafdeling en groenprodukte vir die lae-inkomstesektor.
Moseneke was op skool ’n kranige rugbyspeler en het aan die Cravenweek deelgeneem.
Vandag is hy ’n stoere Bloubul-ondersteuner en hy mis selde ’n wedstryd.