Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Vervaardigers het min vertroue

Deur: Ingé Lamprecht 2012-06-11 05:00
Johannesburg. – Die treurmare in die vervaardigingsbedryf duur voort.

Volgens die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se vervaardigingsopname vir die tweede kwartaal, het sakevertroue in die bedryf met 18 indekspunte tot 29 geval. Dit is die laagste vlak in twee jaar.

Christelle Grobler, senior ekonoom van die BEO, sê alhoewel daar sekere spesifieke tendense is wat kommer oor die volhoubaarheid van die herstel in die vervaardigingsektor noop, is die daling in sakevertroue ietwat skerper as wat ’n mens sou verwag, veral as daar na die opname se syfers vir aktiwiteitsvlakke in die sektor gekyk word.

Sy meen dit is waarskynlik die gevolg van toenemende internasionale en plaaslike ekonomiese onsekerheid.

Die meerderheid van respondente het algemene saketoestande in die bedryf as swakker as ’n jaar gelede bestempel terwyl die meerderheid in die vorige kwartaal ’n verbetering aangedui het.

Die meerderheid van vervaardigers verwag ook ’n afname in die volume goedere wat oor die volgende jaar uitgevoer sal word.

“Die uiters wisselvallige situasie in Europa is nie net ’n bedreiging vir wêreldgroei nie, maar die plaaslike ekonomiese omgewing het ook meer onseker geraak. Daar is toenemende ongerustheid oor die vooruitsigte vir huishoudelike besteding – die jongste BEO-opnames dui op ’n skerp daling in kleinhandelsakevertroue,” sê sy.

Dié toedrag van sake word ook weerspieël in die styging in die persentasie vervaardigers wat die algemene politieke klimaat as ’n beperking aangedui het. Dié persentasie het sy hoogste vlak in 11 jaar bereik.

Die aanwyser vir indiensneming het gedurende die kwartaal teruggesak in negatiewe terrein, terwyl die koers waarteen arbeidseenheidskoste geklim het, betekenisvol gestyg het. Volgens die opname kan verdere bewyse van die swak vooruitsigte vir indiensneming in die sektor gesien word in die afname in gemiddelde ure wat per fabriekswerker gewerk is.

Ontleders het verlede week tydens die bekendmaking van April se vervaardigingsproduksiesyfers gesê hoewel die volumestyging van 1,2% op ’n jaargrondslag positief is, is die onderliggende tendens in die sektor een van geweldige druk.

Merina Willemse, ekonoom van Efficient Group, waarsku egter daarteen om swak ekonomiese syfers – soos verlede week se vervaardigingsdata – alleenlik voor die Europese krisis se deur te lê.

“Ja, ons word beïnvloed deur die skerp daling in groei in Europa, maar die feit bly staan dat Suid-Afrika oor tyd minder afhanklik van handel met Europa geword het, en die groei in uitvoere na Asië en Afrika het oor die laaste vyf jaar vinniger toegeneem (as die na Europa),” sê sy.

“Die verlies aan produktiwiteit en vaardighede lê swaar op die vervaardigingsbedryf se nek,” sê sy.
 
Lees meer oor:    vervaardiging
«Terug