Kaapstad. – Belastingadviseurs word binnekort gereguleer en dit sal belastingbetalers baat om hul belastingsake slegs by hierdie gereguleerde belastingpraktisyns te laat doen.
Ingevolge die wysigingswet op belastingadministrasie word alle belastingadviseurs van 1 Julie volgende jaar gereguleer.
Stiaan Klue, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns, het die nuwe regulatoriese omgewing verwelkom en sê dit sal belastingbetalers teen skelm belastingpraktisyns beskerm.
Volgens hom moet belastingpraktisyns hulle voor Julie by ’n erkende beherende liggaam laat registreer. Die gevolge vir enigiemand wat daarna aanhou om teen betaling belastingopgawes in te dien of belastingadvies te gee en nie geregistreer is nie, is strafregtelike stappe.
Onlangse syfers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wys dat tot 17 000 van die 34 000 belastingadviseurs en -praktisyns wat bedrywig is nie tot ’n beherende liggaam behoort nie.
In die aanloop tot die nuwe regulasies is die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns aangestel as die nasionale raadseksamen se beoordelaar vir belasting-beroepslui.
Die Suid-Afrikaanse kwalifikasie-owerheid het in November die instituut vir belastingpraktisyns as ’n geregistreerde beherende professionele liggaam erken.
Klue sê die belastingprofessie sluit hom nou aan by die lys van professionele groepe waarvan die statutêre en nie-statutêre professionele liggame moet voldoen aan kriteria wat deur die kwalifikasie-owerheid uiteengesit is.
“Ons glo die nuwe regulatoriese omgewing wat op 1 Julie in werking gestel word, saam met die beroepskwalifikasie in belasting, sal die kwessie van opleiding en sertifisering van belastingpraktisyns die hoof bied,” sê Klue.
Hy sê as ’n erkende professionele beherende liggaam het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns nou sy eie tugraad vir belasting wat kan optree teen belastingpraktisyns wat bedrog pleeg of hulle aan onprofessionele optrede skuldig maak.
Klue moedig belastingbetalers aan om ’n gereguleerde belastingpraktisyn te gebruik wanneer opgawes by die SAID ingedien word.
“Die wysigingswet op belastingadministrasie voorsien spesifiek dat die SAID boetes kan ophef as ’n belastingbetaler bygestaan is en ’n opinie het wat deur ’n geregistreerde belastingpraktisyn voorberei is.”
Die publiek kan ook verseker wees dat die belastingpraktisyn advies gee wat in ooreenstemming is met die jongste wette en sal die praktisyn by die regulerende liggaam kan verkla, sê hy.