Johannesburg. – ’n Potensiële borrel in die mark vir ongesekureerde lenings is nie goed vir Suid-Afrikaanse verbruikers óf banke nie en daarom word die situasie deurlopend deur wetgewers en banke self geëvalueer. Mnr. Pieter du Toit, uitvoerende hoof van FNB Smartloans, sê daar is gereeld interaksie met die Nasionale Kredietreguleerder (NKR).
Du Toit sê egter dié soort skuld neem in ’n baie vinnige pas toe en dat daar rede tot kommer kan wees as dit volgehou word. ’n Borrel ontstaan wanneer dié soort skuld te vinnig te veel toeneem. As verbruikers dan later nie hul terugbetalings kan hanteer nie, bars die borrel: Hulle hou op betaal en kan gevolglik ’n swak kredietgradering kry, sê Du Toit. Op sy beurt sal kredietverskaffers groot verliese ly, wat tot meer konserwatiewe kredietverlening sal lei – wat beteken krediet sal moeiliker aan ander kliënte toegestaan word.
Baie ontleders en ekonome het al hul kommer uitgespreek oor ’n moontlike borrel en sommige meen dis nie ’n geval van óf ’n borrel gaan ontstaan nie, maar wanneer. Verbruikerskuldsyfers van die NKR wys dat die uitstaande ongesekureerde verbruikerskuld in die kwartaal tot einde September met meer as 15% gestyg het, van R87,8 miljard tot R101,1 miljard.
Die kredietburomonitor van die NKR se syfers tot einde Desember wys dat sowat 17 miljoen rekeninge ’n negatiewe kredietprestasie het. Volgens me. Nomsa Motshegare, waarnemende uitvoerende hoof van die NKR, is die jongste syfers rede tot kommer. Mnr. René van Wyk, die registrateur van banke, het ook onlangs aan Bloomberg gesê hulle gaan banke se bedrywighede wat betref ongesekureerde lenings ondersoek en ’n verslag uitreik in die tweede helfte van die jaar. “Volgende jaar kan dalk te laat wees,” het hy gesê.
Du Toit sê dat daar ’n groot behoefte aan en vraag na dié soort skuld is en dat 85% tot 90% van die lenings aan bestaande kliënte is, wat die risiko verlaag. Ander banke het ook al aangedui dat hulle gretiger is om hul bestaande kliënte gelukkig te hou en aan hulle te leen. Banke se kredietrisiko-tellings is ook beter en dit verlaag die risiko verder, sê Du Toit. Ongesekureerde skuld as ’n persentasie van totale skuld is relatief klein, maar menige ontleders en ekonome het al hul kommer uitgespreek oor ’n moontlike borrel.
Du Toit sê hulle verwag nie dat rentekoerse binnekort vinnig gaan toeneem nie, maar dis ook nie hoër rentekoerse wat die borrel kan laat bars nie. Dit kan eerder hoër lewenskoste en ’n verlangsaming in die ekonomiese groei wees wat daartoe kan lei, hoewel hy sê die algehele mark se skuldvlakke is nog relatief gesond.
“Ons is in ’n laerentekoers-omgewing en in tye van lae rentekoerse moet ’n persoon sy skuld probeer verminder en afbetaal, maar dit lyk nie asof dit die geval is nie – juis andersom.” Motshegare het vroeër kommer uitgespreek dat mense hul hoë lewenstandaard danksy ongesekureerde lenings handhaaf en ander skuld daarmee afbetaal.