Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

FNB staan sakeredding teen

Deur: David van Rooyen 2012-06-06 05:00
Johannesburg. – Die lot van beleggers in die Realcor-groep, wat al maande lank wag om te hoor wat van hul beleggings gaan word, is môre weer in die hof.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof hoor môre nog ’n aansoek aan dat die voorlopige likwidasie van Midnight Storm, die maatskappy in die Realcor-groep wat die vyfsterhotel in Bloubergstrand ontwikkel het met geld wat van die publiek gewerf is, opgehef word.

Die aansoek word egter teengestaan deur First National Bank (FNB), wat eerder likwidasie voorstaan.

Die Bonatla-groep, die om­strede eiendomsgroep van Nicky Vontas, voer aan dat hy eise teen Midnight Storm oorgeneem het, wat hom die reg gee om die hof te versoek om ’n sakereddingskema vir die spesifieke maatskappy in te stel.

Hy bied onder meer aan om aandele in die Bonatla-groep aan beleggers aan te bied.

Verhandeling in Bonatla se aandele op die JSE is egter al geruime tyd opgeskort, wat die waarde van die aanbod twyfel­agtig maak.

FNB se filiaal WesBank is die enigste gesekureerde skuldeiser met ’n eis van R54 miljoen.

Jacobus Swanepoel, bestuurder van FNB se kommersiële-skuldherwinningsafdeling, voer aan dat ’n sakereddingskema nie in beleggers se belang sal wees nie, en dat dit net ’n plan is om Bonatla in staat te stel om die halfvoltooide hotel vir ’n appel en ’n ei te bekom.

In die geval van likwidasie is beleggers ten minste verseker van ’n kontantuitkering, al is dit heelwat laer as die bedrag wat hulle belê het, teenoor ’n uitgerekte proses waarin hulle tevrede moet wees met aandele in ’n maatskappy waarvan die waarde te betwyfel is.

Vontas voer in Bonatla se hofstukke aan dat die halfvoltooide hotel in Bloubergstrand op ’n veiling vir waarskynlik nie meer as R120 miljoen verkoop sal word nie.

As WesBank se eis en die likwidasiekoste betaal is, sal daar waarskynlik niks vir die skuld­eisers (met inbegrip van beleggers) oor wees nie.

Swanepoel sê egter dat as die eiendom wel vir R120 miljoen verkoop word, daar ná ’n or­delike likwidasieproses sowat R61 miljoen oor sal wees wat vir Midnight Storm se skuldeisers ’n dividend van sowat 24c in die rand beskikbaar sal stel.

Vontas se plan is om die hotel met skuld en eie kapitaal te voltooi, wat dan ’n inkomste kan verdien vir Bonatla waarin die Realcor-beleggers aandele sal hê.

Swanepoel voer egter in sy hofstukke aan dat daar op grond van Bonatla se balansstaat, wat by die hofstukke aangeheg is, twyfel is of Bonatla oor geld beskik om die projek te voltooi, of toegang tot genoeg finansiering vir die doel het.

Volgens hom keer niks die likwidateurs om self die hotel te voltooi nie.
 
Lees meer oor:    bonatla  |  realcor
«Terug