Johannesburg. – Suid-Afrikaners gaan nie links en regs ongesekureerde lenings aan om voertuie te koop nie.
Kleinhandelbanke sê die verband tussen die skerp groei in ongesekureerde lenings en die onlangse skerp toename in nuwevoertuigverkope in ’n swak ekonomiese klimaat is volgens hul data onbeduidend.
Ongesekureerde of persoonlike lenings word toegestaan op grond van die lener se kredietwaardigheid en daar word nie – soos in die geval van gesekureerde lenings, soos voertuigfinansiering en huislenings – aanvullende sekuriteit (soos ’n bate) vereis nie.
Chris de Kock, hoof van verkope en bemarking van WesBank, sê hoewel die bank se deposito’s as ’n persentasie van sy nuwevoertuig-finansieringsake die afgelope drie jaar effens afwaarts neig, het dit nie betekenisvol verander nie.
Die bank se data dui nie daarop dat mense persoonlike lenings uitneem om ’n deposito op ’n nuwe voertuig te kan betaal nie, sê hy.
De Kock sê daar was nog altyd ’n mark vir persoonlike lenings om gebruikte voertuie te koop omdat die grootste banke gewoonlik net voertuie van tot vyf jaar oud finansier.
Dit is omdat die voertuig (bate) as sekuriteit vir die lening gebruik word.
Tog het die gebruiktevoertuigmark nie die afgelope paar jaar in die tempo van ongesekureerde skuld gegroei nie en daar is gevolglik nie aanduidings dat persoonlike lenings toenemend gebruik word om gebruikte voertuie te finansier nie.
De Kock sê selfs al sou ’n verbruiker ’n ongesekureerde lening kon bekom, ná sy aansoek om gesekureerde krediet afgekeur is, is die waarde van dié lenings in die algemeen nie groot genoeg om ’n voertuig te kan koop nie.
Keith Watson, direkteur van strategie en sakeondersteuning van Standard Bank, sê ook dit is onwaarskynlik dat mense in groot mate ongesekureerde skuld gebruik om voertuie mee te finansier.
Hoewel banke almal ongesekureerde lenings van tot sowat R250 000 bemark, kwalifiseer baie min mense vir sulke bedrae.
Watson sê die rentekoerse op ongesekureerde lenings is weens die risiko wat daarmee geassosieer word, ook heelwat hoër as dié op gesekureerde lenings.
Dit sal daarom nie sin hê om ’n lening te bekom teen ’n hoër rentekoers om ’n bate te bekom wat as gesekureerd geklassifiseer word nie, sê hy.
Watson sê dit is wel waar dat Suid-Afrikaners baie bewus is van hul status.
Hy meen een van die maniere waarop Suid-Afrikaners hul status bevorder, is deur hul waarneembare welvaart ten toon te stel – mense meen dikwels iemand verdien baie of is welvarend omdat hulle ’n sekere voertuig besit.
Wetgewing soos die Nasionale Kredietwet het baie goeie maatreëls geskep om, voordat finansiering toegestaan word, seker te maak mense kan die item wat hulle wil koop, wel bekostig, sê Watson.
Hy meen dit het in groot mate potensieel roekelose uitleenpraktyke stopgesit.
Hy maan ook die toenemende tendens om voertuie oor langer tydperke en met ’n ballonbetaling by die verstryking van die ooreenkoms te finansier, kan problematies wees, aangesien dit langer duur voordat die uitstaande skuld die waarde van die voertuig ewenaar.
As klante later ’n voertuig wil koop, sal dit dus langer duur voordat hulle hul voertuig kan inruil teen dieselfde waarde as die uitstaande bedrag op die lening.