Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Nog hoë poste kan bokveld toe in Libok-skandaal

Deur: Niel Joubert 2012-07-03 02:06
Johannesburg. – Die eerste kop het gister gerol in die Libok-skandaal in Brittanje met die bedanking van Barclays se voorsitter. Alles dui egter daarop dat dit nie die laaste een gaan wees nie.

Marcus Agius het gister bedank nadat Barclays boetes van alte­same $451 miljoen opgelê is weens manipulasie van die markte.

“As voorsitter is ek die uiteindelike bewaker van die bank se reputasie,” het Agius in ’n verklaring op die bank se webwerf gesê.

“Dus staan ek pa daarvoor en moet ek verantwoordelikheid aanvaar deur opsy te staan.”

Barclays plc het verlede week wangedrag erken wat verband hou met die manipulasie van die Londense interbankkoers (Libok) en die Europese interbankkoers (Euribok) en sy aandeelprys het in Londen met byna 17% gedaal.

Agius sê verlede week se gebeure het op onaanvaarbare gedragstandaarde binne die bank gedui en dit was ’n “verpletterende slag” vir die reputasie van die bank.

Agius sal in sy pos aanbly totdat ’n “ordelike opvolg” verseker is. Die soektog na ’n opvolger het gister begin.

Die direksie van die bank het ooreengekom op ’n oudit van die maatskappy se sakepraktyke as deel van ’n wyer program om Barclays se reputasie te herstel, sê Agius.

“Ek is werklik jammer dat ons klante, kliënte, werknemers en aandeelhouers teleurgestel is. Barclays het baie hardwerkende, talentvolle individue met integriteit,” het hy gesê.

Hy was die afgelope ses jaar voorsitter van Barclays, en sê dit was ’n tydperk van ongehoorde stres en onrus vir die bank­bedryf asook die wêreldekonomie in die algemeen.

Volgens hom is Barclays goed gedien deur ’n “uitmuntende” uitvoerende span – gelei eerstens deur John Varley en nou deur Bob ­Diamond, en vandag is die bank ’n “sterk, goed gekapitaliseerde en winsgewende onderneming”.

Intussen neem die druk toe op Diamond, uitvoerende hoof, om ook te bedank.

Ed Miliband, leier van die Arbeidersparty, het gister gesê die fokus bly op Diamond, berig Bloomberg.

“As jy £50 van Tesco steel, word jy gestraf,” het Miliband op televisie gesê.

“As jy knoei, jok en bedrieg ter waarde van miljoene ponde, moet die volle mag van die gereg ook op jou neerval,” het hy gesê.

Hy het weer ’n oproep gedoen dat Diamond bedank.

Diamond was tussen 2005 en 2009 aan die hoof van Barclays se beleggingsbedrywighede toe die Libok vir eie gewin gemanipuleer is.

Barclays is egter nie ’n geïsoleerde geval nie, het Brittanje se finansiëledienste-owerheid (FSA) gister gesê, berig Reuters.

“Ek wens ek kon sê dit is ’n geïsoleerde voorval ... jy sal mettertyd meer hiervan hoor,” het Tracey McDermott, die FSA se waarnemende hoof van wetshandhawing, gesê.

Barclays se gedrag was onaanvaarbaar en ’n aantal ondersoeke is aan die gang, het sy gesê.

Meer as 12 ander banke word ondersoek deur wetgewers van Noord-Amerika, Europa en Japan, insluitende Citigroup, HSBC, UBS en Royal Bank of Scotland.

Ontleders en bankiers verwag verdere stewige boetes.

Diamond sê hy sal optree

Bob Diamond, uitvoerende hoof van Barclays, sê hy het die volle ondersteuning van die bank se nie-uitvoerende direkteure en hy sal aanbly om die voorgestelde oorsig van die bank se manipulasie van die Libok-rentekoerse toe te pas.

“Niemand is meer jammer, teleurgesteld en kwaad oor hierdie gebeure as wat ek is nie,” het Diamond gister in ’n brief aan werknemers geskryf.

“Ons almal weet dat hierdie gebeure nie verteenwoordigend van ons kultuur is nie.

“Dit is my verantwoordelikheid om vas te stel wat gebeur het en dit op te los.”

Diamond het gesê daar sal “toepaslik” teen diegene opgetree word wat die rentekoerse gemanipuleer het.

“Natuurlik, in die lig van die aard van die owerhede wat betrokke is, gaan die ondersoeke gepaard met strafregtelike ondersoeke. Van die ondersoeke is reeds aan die gang.”

Hy het gesê daar is ’n verskeie maniere om die situasie te hanteer, van die terugneem van vergoeding tot die afdanking van mense. – Bloomberg
 
«Terug