Kaapstad. – Nie naastenby soveel adviseurs en makelaars moet teen einde vandeesmaand die verpligte eksamen vir die finansiëledienstebedryf aflê as wat aanvanklik aangedui is nie.
Die Raad op Finansiële Dienste (RFD) het die afgelope twee maande groot verwarring veroorsaak met sy statistieke oor hoeveel mense die eksamen moet aflê.
In April is ’n verklaring uitgereik dat 63 368 van die meer as 107 000 verteenwoordigers (adviseurs en makelaars) van finansiëlediensteverskaffers en 9 100 van die meer as 13 800 sleutelpersone (bestuurders van maatskappye of eenmansake) in daardie stadium die eksamen afgelê het. Daar is aangedui dat die res nog die eksamen moet aflê.
Die syfers in ’n omsendbrief, wat die RFD einde verlede maand uitgestuur het, het egter aansienlik hiervan verskil.
Dit het glo ’n taamlike opskudding in die bedryf veroorsaak.
Die RFD het dit toe verlede week nodig geag om in ’n persverklaring “die verwarring” op te klaar wat ontstaan het oor die jongste syfers, “wat ’n bietjie verskil” – met 44 000 – van April se syfers.
Die RFD het die verskille toegeskryf aan “verskillende veranderlikes” wat gebruik is. Die oorspronklike syfers het mense ingesluit wat nie teen einde vandeesmaand die eksamen hoef af te lê nie omdat hulle eers ná Januarie 2010 in die bedryf begin werk het. (Hulle kry ná hul aanstelling twee jaar om die eksamen af te lê.)
Die RFD het nou die nuwe toetreders uitgesluit.
Volgens die reggestelde syfers moes 62 835 verteenwoordigers die eksamen voor einde vandeesmaand skryf, pleks van die meer as 107 000.
Die RFD sê 42% van die totaal, oftewel 44 899, is nuut in die bedryf.
Daar was ook verwarring omdat 51 790 mense volgens die omsendbrief van einde verlede maand reeds geskryf het – minder as die 63 368 wat in April genoem is. Ook die slaagsyfers van dié wat die eksamen afgelê het, het verskil – in April was dit 41 318 en einde verlede maand 35 646.
Die RFD het dit egter nie spesifiek verduidelik nie en teen druktyd nog nie op vrae daaroor gereageer nie.
Die internet-bedryfstydskrif FANews het skerp kritiek gelewer op die “groot verskille” in die syfers. Sy lesers het ook te velde getrek teen die RFD.
Soos Ernst skryf: “Ek sal graag wil weet wat gaan die RFD doen indien my makelary so deurmekaar is soos hy.”
FANews het ook die syfers oor die nuwelinge bevraagteken omdat dit beteken 42% van die bedryf het minder as twee jaar se ondervinding.
Paul Kruger, woordvoerder van Moonstone, een van die eksamenliggame, sê dis moontlik omdat die bedryf “ ’n ontsettende groot omset” het. Hy self is meer as 30 jaar in die bedryf. Volgens hom bekommer dit die hele bedryf dat soveel kundigheid verlore gaan.
Volgens die nuwe syfers van die RFD moet nog 11 045 verteenwoordigers die eksamen aflê.
Môre is die laaste dag vir registrasie omdat dit minstens tien dae duur om die reëlings vir die eksamen te tref.
Kruger het gesê die eksamenliggame het meer as voldoende vermoë om al die mense nog te kon registreer. Volgens hom was daar sedert einde verlede maand ’n toeloop van mense wat registreer.
Die RFD het intussen aangekondig dat sekere dele van die finansiëledienstebedryf voor einde vandeesmaand kan aansoek doen om uitstel vir die eksamen. Kruger meen dit kan ook ’n impak op die syfers hê.