Sake24

Versekeringsbedryf: Regulasies net te veel

Deur: Adri van Zyl 2012-12-23 22:21
Johannesburg. – Die vlaag van regulasies wat aan die finan­siëledienstesektor opgedwing word, is nou by die punt waar dit ondernemings begin beperk en nie meer nuttig is nie.

Dít is die mening van sake­leiers uit die versekeringsektor wat onlangs by die regsfirma Norton Rose deelgeneem het aan ’n bespreking van die tendense en knelpunte in die versekeringsbedryf.

Dr. Johan van Zyl, uitvoerende hoof van Sanlam, wat die bespreking gelei het, sê die blote omvang en ingewikkeldheid van die huidige regulasies skep on­sekerheid, jaag die kapitaal­vereistes van versekeraars op en kompliseer beplanning van sakemodelle.

Volgens hom is regulasies en voldoening daaraan nodig vir ’n gesonde bedryfsomgewing, maar daar kom ’n punt waar rompslomp nie meer ’n nut het nie en eerder ’n beperking word.

Dit is waar die Suid-Afrikaanse bedryf op die oomblik staan. “Te veel regulasies, omslagtigheid om daaraan te voldoen en korporatiewebeheer-maatreëls kos die bedryf honderdmiljoene rande,” sê Van Zyl.

Teen dié agtergrond kan die toepaslikheid van die huidige ­regulatoriese raamwerk volgens hom bevraagteken word.

In Suid-Afrika is ’n bykomende las dat die magdom regulasies in die versekeringsbedryf in ’n baie kort tydperk ingestel moet word. “Die meeste van die re­gulasies wat in die buiteland in­gestel is en nou hier ingevoer word, is oor ’n tydperk van 15 jaar ingestel.

“In Suid-Afrika word van versekeraars verwag om dit binne twee jaar in te prop. Dit is dus nie verrassend dat dit aan die onmoontlike grens nie.”

Die regulasies gaan ook omwentelinge in die versekeringsbedryf meebring.

Die nuwe kapitaal- en risikobestuursvereistes vir die sektor (bekend as SAM) is omstrede en het reeds gelei tot ’n golf van nuwe vennootskappe in die sektor, wat wêreldwyd ’n tendens is.

Soos sake staan, het die bedryf reeds te kampe met groeiende druk op koste, stygende pryse en eise, gebrek aan vertroue in die bedryf en bedryfsrisiko’s.

Ander regulasies wat ten doel het om die Suid-Afrikaanse versekeringsbedryf beter te reguleer, is die instelling van die regulasies vir die regverdige behandeling van kliënte en die wysigingswetsontwerp op algemene finansiële dienste.

Daarby gaan die speelveld vir versekeraars heeltemal verander deur die veelbesproke hervormings in die pensioenfondsbedryf en swart bemagtiging, die instelling van die nasionale gesondheidsversekeringstelsel, en die skuif na die stelsel van tweeledige regulering vir die finan­siële sektor.

Veranderinge in verbruikersgedrag stel ook eiesoortige eise wat uitdagend is vir versekeraars. Van Zyl sê daar is ’n groter vraag na eenvoudige produkte en kliënte soek tasbare voordele en nie net basiese versekeringsprodukte nie. Daarby is daar ’n akute tekort aan mense met die nodige vaardighede in die bedryf. Al is daar te midde van die slegte nuus ook geleenthede vir versekeraars – soos die groei­ende middelklas en meer mense wat spaar vir aftrede – gaan net die versekeraars wat kan aanpas by die nuwe spelreëls oorleef.



Dr. Johan van Zyl, uitvoerende hoof van Sanlam.

Lees meer oor:    sanlam  |  johan van zyl  |  versekering  |  versekeringsbedryf
«Terug