Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Cell C oorweeg afleggings

Deur: Anél Viktor 2012-06-01 05:00
Johannesburg. – Cell C het gister gesê hy het met ’n konsultasieproses begin met die oog op moontlike aflegging van sy werknemers.

Die selfoonnetwerk het in ’n verklaring gesê hy is sensitief oor die emosionele impak wat moont­like afleggings op die betrokke werk­nemers kan hê.

Cell C het verlede Vrydag sy werknemers in kennis gestel dat hy ’n aflegging-konsultasieproses gaan volg.

Dinsdag het die betrokke werk­nemers elk ’n formele kennisgewing ontvang. Hulle is genooi om Cell C te raadpleeg oor moontlike afleggings en alternatiewe maniere om afleggings te voorkom of te minimaliseer.

Cell C het gesê hy erken daar is vryheid van assosiasie ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge, maar hy is nog nie deur vakbonde in kennis gestel oor die identiteit van hulle lede nie.

“Solidariteit het ook nie dié inligting aan ons verskaf nie, al het ons versoek dat hulle dit doen,” sê Cell C.

Die maatskappy sê hy sal aan al sy wetlike verpligtinge voldoen en poog om in die proses afleggings te beperk.
 
Lees meer oor:    cell c
«Terug