First National Bank (FNB) se toepassing vir bankdienste op selfone het eergisteraand op die eerste MTN App of the Year-toekennings die prys vir die beste algehele toepassing gewen.
FNB se banktoepassing het ook in die kategorieë beste iOS-(vir Apple-produkte), beste Android- en beste BlackBerry-toepassing gewen.
Die FNB-toepassing is in Julie vanjaar bekend gestel – die eerste toepassing vir bankdienste in die land.
Standard Bank het sy toepassing einde Junie bekend gestel en Nedbank stel syne die maand bekend. Absa volg na verwagting einde vanjaar.
Dr. Michael Jordaan, uitvoerende hoof van FNB, sê ’n goeie toepassing “moet waarde hê en nuttig vir die gebruiker wees”.
FNB se toepassing het tans 230 000 aktiewe gebruikers en dit groei teen meer as 30 000 per maand.
Meer as R6 miljard se transaksies is al deur die toepassing beklink.
FNB het ook gister bekend gemaak dat kliënte voortaan ook skootrekenaars deur die bank sal kan koop.
Hulle kan reeds tabletrekenaars en slimfone deur die bank bekom.
Dié aanbod behels die Acer Windows-skootrekenaar en Ultrabooks.
Kliënte kan dit oor 24 maande afbetaal teen geen rente, bykomende koste of heffings nie.
Nuwe en bestaande FNB Goud- of Platinum-tjekrekeninghouers en FNB- private kliënte sal hiervoor kwalifiseer.