Die vereniging van internetdiensverskaffers (Ispa) bestudeer die uitspraak van die Mededingingstribunaal in die onlangse saak teen Telkom waarna hy op optrede sal besluit.
Marc Furman, mede-voorsitter, sê al het die saak betrekking op die tydperk van 1999 tot 2004, het die besluit betrekking op die huidige mark, wat steeds gekenmerk word deur onder meer onmededingende pryse.
Ispa het Woensdag in ’n verklaring gesê hy is dankbaar dat die Mededingingstribunaal Telkom skuldig bevind het aan onmededingende gedrag.
Telkom is ’n administratiewe boete van R499 miljoen opgelê vir monopolistiese gedrag van 1999 tot 2004 wat daartoe gelei het dat talle diensverskaffers in die telekommunikasiebedryf hul deure moes sluit of nie hul ondernemings kon laat groei nie.
Die tribunaal se bevinding regverdig die vereniging se dekade lange stryd om groter mededinging in die telekommunikasiemark, sê Furman.
“Danksy die Mededingingskommissie se verbintenis tot vervolging is die saak, wat ’n lang en moeilike proses was wat Ispa en ander klaers destyds in 2002 begin het, nou hopelik op ’n einde,” sê Furman.