Kaapstad. – MTN het ’n wesenlike aantal van sy eie aandele teruggekoop en het nou meer as 173,1 miljoen intekenare, het die maatskappy gister op sy jaarvergadering aangekondig.
Volgens Sifiso Dabengwa, MTN se uitvoerende hoof, het die maatskappy van Maart tot vandeesmaand aandele ter waarde van R1,36 miljard teruggekoop.
Volgens Dabengwa is dit om opbrengs vir aandeelhouers te verhoog.
In die maatskappy se kwartaal tot einde April het MTN se aantal intekenare met 5,2% toegeneem tot 173,1 miljoen in die 21 lande waarin hy bedrywig is.
Die maatskappy sê sy omset het met “dubbelsyfers” gestyg.
MTN Nigerië, sy grootste onderneming, se verdienstemarges is egter geknou deur laer tariewe. MTN Suid-Afrika se omset is versterk deur die groter inkomste van data- en SMS-dienste.
MTN Irancell het “sterk” omsetgroei gehad. Die maatskappy sê hy werk met Amerikaanse owerhede saam om seker te maak hy voldoen aan die vereistes van die sanksies teen dié land.
Oor Turkcell sê MTN dat hy die Turkse selfoonnetwerk se eis sal teenstaan en dat daar geen regsgronde vir die eis is nie.
Turkcell het MTN in Maart daarvan beskuldig dat hy sy selfoonlisensie in Iran op ’n korrupte wyse bekom het. Turkcell beweer dat
MTN onder meer onderneem het om militêre samewerking en die lewering van wapens en verdedigingstoerusting deur Suid-Afrika aan Iran te fasiliteer. MTN het toe in reaksie gesê dié bewering is “sensasioneel, lagwekkend, beledigend en vergesog”.
Die maatskappy het na aanleiding van die aantygings die onafhanklike Hoffmann-komitee gelas om die bewerings te ondersoek.
Dié ondersoek is “goed op dreef”, het MTN gister gesê. Die komitee sal na verwagting later vanjaar sy aanbevelings aan die maatskappy se direksie doen.