Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Mvela-plan beïndruk OBK min

Deur: Antoinette Slabbert 2012-06-14 05:00
Pretoria. – Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is min beïndruk deur die Mvelaphanda-groep se aanbod om Avusa oor te neem. Hy het ’n belang van 17% in die mediareus.

Maqhawe Dlamini, bestuurder van genoteerde belange by die OBK, sê Mvela se aanbod deur sy filiaal Richtau voeg min waarde by.

Die OBK bestuur die beleggings van die regeringspensioenfonds en is met meer as R1 000 miljard onder bestuur die grootste institusionele belegger in die land.

Sake24 het vroeër berig dat die Mvela-groep sy belang van 21% in Avusa, wat die Sunday Times, die Times en die Sowetan besit, wil vergroot deur alle ander aandeelhouers uit te koop.

Mvela bied ’n kombinasie van kontant en aandele in sy volfiliaal Richtrau aan. Die aanbodprys is R24,00 per aandeel, wat glo ’n premie van amper 20% verteenwoordig.

Mvela stoot R480 miljoen kontant in en het R650 miljoen se oorbruggingskapitaal verkry. Die balans van die koopprys van R3 miljard sal in aandele betaal word.

Richtau sal dan later genoteer en uit Mvela ontknoop word en Avusa gedenoteer word.

Dlamini het gister gesê hy sal verder met die voornemende kopers moet praat oor die voordele wat die transaksie op lang termyn vir die mediamaatskappy inhou voordat hy sy steun daaraan kan toesê.

Mvela het eergister gesê 65% van Avusa se aandeelhouers het hulle reeds onherroeplik tot die beoogde transaksie verbind, maar hy het 75%-steun nodig om dit deur te voer.

Dlamini sê dit lyk of Mvela se voorstel om Avusa reg te ruk, geskoei is op die gebruik van Avusa se eie hulpbronne. “Die vraag is waarom moet ’n mens ’n wesenlike belang aan ’n derde party verkoop as dié party nie nuwe geld of hulpbronne bring om ’n ommekeer teweeg te bring nie ” sê hy.

Dlamini bevraagteken verder die oorname van beheer oor Avusa deur Mvela. Richtau het aangedui dat hy Colin Cary, tans besturende direkteur van Avusa Retail Solutions, sal aanstel om Avusa te lei.

Richtau sal ’n kleiner ­direksie hê met ’n onafhanklike voorsitter en “ander ­ervare professionele sakelui om die bestuur te help en die nodige strategiese leiding aan die onderneming te verleen. Beheer is net geregverdig as die beherende party die nodige vaardighede het om by te dra tot die groei van die organisasie,” sê hy. “Die konsortium (Mvela) het nie getoon dat hy die nodige vaardighede in die mediabedryf het nie.”

Dlamini sê om toenemende geleenthede in die verbruikersmark in Afrika aan te gryp, sal vaardigheid van rolspelers verg.

“Ons verkies ’n beherende aandeelhouer wat meer ambisie kan toon as om bloot die organisasiestruktuur te herskik.”

Andrew Bonamour, waarnemende voorsitter van Mvela, het in ’n verklaring gesê: “Die bedoeling is dat Avusa se bestuur ’n benadering van groter samewerking, onderlinge verkope en sinergie-voordele tussen die onderskeie ondernemings volg en Avusa se kostebe­sparings en ommekeer versnel. Blackstar (Mvela se grootste aandeelhouer, wat die transaksie aandryf) het ingestem om sy belegging in Avusa vir minstens drie jaar te hou om die sukses van die ommekeer te verseker.”


 
Lees meer oor:    obk  |  mvela  |  avusa
«Terug