Kaapstad. – MTN loop gevaar om die selfoonoorlog in Suid-Afrika te verloor indien hy nie vinnig sy pryse verlaag nie.
Dít was die boodskap van kenners nadat hy Woensdag sy tussentydse resultate tot einde Junie bekend gemaak het.
MTN se omset het die afgelope jare geweldig gegroei, ook in sy jongste resultate: sy omset het met 17,5% tot R66,5 miljard gestyg.
Die groep as geheel het nou 177 miljoen intekenare – ’n styging van 6,9% teenoor ’n jaar tevore.
Hy het aandeelhouers ook gelukkig gehou met ’n tussentydse dividend van R3,21 per aandeel.
Volgens Mervin Miemoukanda van Frost & Sullivan sal MTN se plaaslike omset na verwagting skerp afneem namate hy intekenare afstaan aan Vodacom en Cell C, wat hul pryse wesenlik verlaag het en ’n nuwe prysoorlog begin het.
“Selfs al ewenaar MTN SA die tariefplanne van Vodacom en Cell C, sal sy omset steeds daal omdat hy nie die kleiner omset kan vergoed deur bloot nuwe intekenare te kry nie.”
Volgens Miemoukanda moet MTN weer dink oor sy prysbepalingstrategie sodat hy mededingend kan bly.
Rob Forsyth, Investec Batebestuur se hoof van nywerheidsaandele, sê veral Vodacom plaas groot druk op MTN se plaaslike sake.
Die reuse-MTN-groep is egter nie heeltemal van Suid-Afrika afhanklik nie; hy kan ook staatmaak op sy ander groot markte, soos Nigerië en Iran.
Veral sy sake in Iran het goed gevaar. MTN Irancell se intekenare het met 10,4% toegeneem en die omset (op ’n buitelandse-valuta-grondslag) met 28,3%.
Internasionale sanksies teen Iran het wel ’n uitwerking op die maatskappy.
Sifiso Dabengwa, MTN se uitvoerende hoof, het Woensdag bevestig dat die moedermaatskappy sukkel om die geld terug te bring Suid-Afrika toe.
In Nigerië het taai mededinging hom laat sukkel. MTN Nigerië se intekenare het met 3,7% gestyg en sy omset met 4,4%.
Sy verdienstemarge is egter meer as 60%.
“Sake lyk goed vir MTN op lang termyn, maar op kort termyn is daar ’n paar probleme,” sê Forsyth.
“Daar is wesenlik druk op die geldeenhede van onder meer Nigerië, Iran en Sirië, wat ’n kleiner omset vir die maatskappy beteken.”
MTN blyk nou al hoe meer te fokus op data-omset wat nou 10% van sy totale omset uitmaak teenoor 7% in die vorige tydperk.
“Data sal die aandrywer van MTN se omsetgroei bly,” sê Forsyth.
“Dit is die fokus van elke liewe selfoon-diensverskaffer ter wêreld en MTN is nie ’n uitsondering nie.”