Die kleinhandelaar Clicks verkoop nou voorafbetaalde mediese dienste wat nes lugtyd vir selfone gekoop word.
Sy Impilo-koepons word selfs by lugtydverkopers gekoop en kan gebruik word vir verskeie kliniekdienste, soos omvattende konsultasies vir kinders en pyn-, koors- en allergiemedikasie. Die pryse wissel tussen R55 en R175.
Die kleinhandelaar het ’n vennootskap met Health Connects aangegaan wat vandag sy ooreenkoms hieroor met Vodacom bekend maak.
Die koepons kan reeds landwyd by Clicks-klinieke gebruik word en sal ook binnekort by dié winkels te koop wees.
Enigiemand kan die koepons koop en aan iemand anders oordra. Rene Anderson, kommersiële hoof van Clicks se kliniekafdeling, sê hulle verwag dat huiswerkers en hul gesinne die vernaamste begunstigdes van die diens sal wees.
Health Connects vestig ook ’n uitgebreide netwerk van diensverskaffers soos algemene praktisyns. Koepons kan ook hiervoor gekoop word. Dit brei nou in die Oos-Kaap uit en kom in die Wes-Kaap op die been.
Letitia Watson