Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

‘Massmart-fonds moet groter wees’

Deur: Heléne Cilliers 2012-06-12 05:00
Pretoria. – Weens meningsverskille is nie een nie, maar twee verslae opgestel om leiding aan die mededingingsappèlhof te gee oor voorwaardes vir die Walmart-Massmart-samesmelting.

Die verslag, wat op aandrang van die appèlhof opgestel is, is veronderstel om die hof te help voor sy finale uitspraak oor die voorwaardes vir die transaksie.

Die drie lede van die ondersoekspan was James Hodge, ’n ekonoom van Genesis Analytics vir die vakbond Saccawu, die Amerikaanse ekonoom en Nobelprys-wenner prof. Joseph Stiglitz vir die regering en prof. Mike Morris van die Universiteit van Kaapstad se Policy Research in International Services and Manufacturing vir Walmart en Massmart.

Volgens Hodge en Stiglitz se verslag het hulle gereeld vergader om die riglyne vir die verslag te bespreek en was daar ’n doelbewuste poging om ’n enkele studieverslag op te stel. Die meningsverskille oor die samestelling van die voorgestelde verskaffersontwikkelingsfonds het dit bemoeilik en uiteindelik het Morris besluit om ’n afsonderlike verslag vir die appèlhof voor te berei.

Hodge en Stiglitz glo dat R100 miljoen vir die fonds slegs ’n gebaar verteenwoordig en die doel van die fonds nie daarmee bereik sal word nie, naamlik om ’n verandering in gedrag te motiveer en skade vir plaaslike verskaffers te versag. Hulle voel die fonds moet R500 miljoen tot R2 miljard sterk wees en oor vyf tot tien jaar aangewend word.

Hulle is ook nie tevrede daarmee dat Walmart self die fonds bestuur nie.

In hul verslag maak Hodge en Stiglitz sterk voorspraak daarvoor dat ’n instansie soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) die fonds administreer of selfs dat die fonds deel vorm van ’n groter regeringsgesteunde fonds.

Hodge en Stiglitz voel daar moet groter toesig en beheer oor so ’n fonds wees om te voorkom dat Walmart sy verskaffersontwikkelingsprogram slegs op verskaffers fokus wat aan hom verbind is.

In hul verslag sinspeel hulle ook daarop dat Walmart se sakepraktyke nie altyd bo verdenking is nie, dat hy verskaffers dwing om teen lae pryse aan hom te verskaf en dat baie ondernemings al weens sodanige praktyke ondergegaan het.

“Daar is kommer dat hy sy globale markaandeel verkry het, nie nét deur groter doeltreffendheid (soos byvoorbeeld in verskaffingskettingbestuur) nie, maar ook deur sy arbeidspraktyke en korrupsie, wat in Suid-Afrika onaanvaarbaar moet wees,” lui die verslag.

In teenstelling met Hodge en Stiglitz se voorstelle sê Morris in sý verslag wanneer enige spesifieke institusionele ingryping bepaal word, moet die vermoë om ’n fonds te administreer in ag geneem word.

“Gebruik die vermoë wat jy het, nie vermoë wat jy wens jy het gehad nie,” skryf hy. Volgens hom is dit ook op dié fonds van toepassing.

Morris sê dit kan baie riskant wees om groot somme geld in ’n fonds in te betaal sonder dat daar die nodige bestuurs- en spesialisvermoë is wat dit doeltreffend kan hanteer. Hy sê om groot bedrae geld aan ’n probleem te bestee, los selde die probleem op, maar dit kan wel tot groot voordeel van mense wees wat hulself in die proses aan enige oorskot help.

Hy waarsku ook dat wanneer daar soveel geld in sodanige omstandighede in die ronde is, dit die kans op korrupsie en vermorsing geweldig verhoog.

Al die partye het nou ’n maand kans om hul skriftelike antwoorde op die verslae aan die mededingingsappèlhof voor te lê.

Agtergrond van ondersoekpaneel

Walmart se oorname van Mass­mart is in Mei verlede jaar deur die Mededingingstribunaal goedgekeur.

Een van die voorwaardes vir die samesmelting was dat die partye ’n R100 miljoen-verskaffersontwikkelingsfonds (SDF) stig om skade aan plaaslike verskaffers teen te werk in die geval waar Walmart produkte sou invoer deur sy gevestigde internasionale verskaffingsketting.

Die vakbond Saccawu en die departemente van ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid en landbou, bosbou en visserye het appèl aangeteken.

Die departemente het onder meer vereis dat die samesmelting hersien en tersyde gestel word.

Die mededingingsappèlhof het die aansoek verlede maand van die hand gewys.

Regter Dennis Davis het in sy appèluitspraak gesê die besware teen die samesmelting regverdig dit nie dat die saak vir ’n herverhoor na die tribunaal terugverwys word nie.

Volgens Davis was die aanduidings dat verbruikers voordeel uit laer pryse sal trek en dat dit tot meer werkskepping as werkverliese sal lei.

Die appèlhof was dit egter eens dat die samesmelting ’n uitwerking kan hê op klein ondernemings en indiensneming in verskaffingskettings en dat die tribunaal se aanvanklike voorwaardes vir die samesmelting nie goed deurdink was nie. Die hof wou groter duidelikheid hê oor die SDF.

Massmart, Saccawu en die regeringsdepartemente moes teen 9 Junie ’n verslag saamstel met voorstelle oor hoe die ontwikkelingsprogram optimaal bestuur kan word.

Die paneel van kundiges wat die verslag moes opstel, is James Hodge, ’n ekonoom van Genesis Analytics vir Saccawu, die Amerikaanse ekonoom en Nobelprys-wenner prof. Joseph Stiglitz vir die regering en prof. Mike Morris van die Universiteit van Kaapstad se Policy Research in International Services and Manufacturing (Prism) vir Walmart en Massmart.

Massmart het intussen voortgegaan om die SDF te stig en het begin met die ontwikkeling van plaaslike verskaffers ingevolge die tribunaalvereistes.
 
Lees meer oor:    massmart  |  walmart
«Terug