Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Massmart-geld is te min vir werkers

Deur: Heléne Cilliers 2012-06-18 05:00
Pretoria. – Die internasionale vakverbond UNI Global Union steun die Stiglitz-Hodge-bevinding dat Massmart se ontwikkelingsfonds van R100 miljoen te klein is om sy verantwoor­delikhede teenoor Suid-Afrikaanse werkers na te kom.

UNI, wat die South African Commercial, Catering and Allied Workers’ Union (Saccawu) gesteun het in sy mededingingsaak teen die Walmart-Mass­mart-samesmelting en glo sy regskoste van R3,1 miljoen betaal het, lei dikwels aksies teen Walmart in verskeie lande.

Die vakverbond steun die ekonome prof. Joseph Stiglitz en James Hodge se bevindinge oor die manier waarop plaaslike verskaffingskettingvermoë gebou moet word met die koms van Walmart.

Philip Jennings, UNI se hoofsekretaris, sê in ’n verklaring die fonds van R100 miljoen wat Walmart moes stig as ’n voorwaarde wat die Mededingingstribunaal vir die samesmelting gestel het, is net ’n druppel aan die emmer vergeleke met wat regtig nodig is om werkgeleenthede in die verskaffingskettingbestuur te bevorder. Stiglitz en Hodge moes in opdrag van onderskeidelik die regering en Saccawu ’n verslag vir die mededingings­appèlhof voorberei om hom te help om ingeligte voorwaardes vir die samesmelting te stel.

Hulle stel ’n fonds van tussen R500 miljoen en R2 miljard vir ’n tydperk van tien jaar voor.

Die bevindinge van prof. ­Mike Morris van die Universiteit van Kaapstad wat in die saak vir Walmart-Massmart getuig het en ook aan die verslag moes werk, het uiteindelik in ’n afsonderlike verslag verskyn omdat die drie ekonome te veel verskil het.

Volgens Morris kan so ’n groot fonds tot wanbestuur en korrupsie lei.

Jennings meen Stiglitz en Hodge se verslag is gegrond op die harde werklikheid van die ­situasie – miljoene Suid-Afrikaners in die verskaffingsketting kan hul bestaansmiddele verloor as Walmart nie verplig word om sy verantwoordelikhede na te kom nie.

“Ons wil die spel se reëls verander en seker maak die belegging is daarop gemik om plaaslike verskaffers, produkte en werkgeleenthede te bevorder. Walmart is in 14 Afrika-lande bedrywig en daar is ’n geleentheid om plaaslike kapasiteit te bou eerder as om die lewe daaruit te wurg,” sê hy.

Saccawu en staatsdepartemente is gekant teen Walmart se belang van R16 miljard in die Massmart-groep.

 
Lees meer oor:    massmart  |  walmart
«Terug