Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Pick n Pay se Badminton kry R10m

Deur: Nellie Brand-Jonker 2012-06-18 05:00
Kaapstad. – Nick Badminton, wat vroeër vanjaar skielik as uitvoerende hoof van Pick n Pay bedank het, is daar weg met ’n handelsbeperkingsooreenkoms van R10 miljoen. Dit geld twee jaar.

Pick n Pay se jaarverslag vir die boekjaar tot einde Februarie 2012 toon dat hy kontantvergoeding van R14,95 miljoen vir die boekjaar gekry het. In die vorige jaar was sy kontantvergoeding R4,4 miljoen. Volgens die jaarverslag is ’n handelsbeperkingsooreenkoms van R10,1 miljoen betaal.

Hy is op 1 Maart 2007 aangestel en het met ingang van 2 Februarie vanjaar bedank. “Nick was ’n integrale deel van die ontwikkeling van die strategie wat tans deur die groep in werking gestel word en daarom het die direksie gevra dat hy ’n handelsbeperkingsooreenkoms onderteken,” lui die jaarverslag.

Hy mag vir twee jaar nie by ’n ander kleinhandelaar werk nie. Die geld wat hy ontvang, is vergoeding vir dié tweejaartydperk.
Intussen soek Pick n Pay steeds na ’n opvolger.

Gareth Ackerman, een van Raymond Ackerman se seuns, het ná Badminton se bedanking die rol van uitvoerende voorsitter en waarnemende uitvoerende hoof gekry. Richard van Rensburg, die uitvoerende adjunk-hoof, staan hom by.

Volgens die jaarverslag soek Pick n Pay “plaaslik en internasionaal na ’n geskikte kandidaat wat die ervaring en kwalifikasies” vir die pos het.

Sean Summers, sy voorganger wat in 2007 ook skielik bedank het, was deur ’n handelsbeperking van drie jaar gebind, het Business Times verlede jaar berig.

Summers het in die boekjaar tot einde Februarie 2007 vergoeding (aandeelopsies uitgesluit) van R9,848 miljoen gekry. In dié jaarverslag is gesê dit sluit R5,4 miljoen in wat met vroeë af­trede verband hou.

Geen verwysing na ’n handelsbeperkingsooreenkoms ten opsigte van Summers is gevind nie.

Sake24 se ontleding van die jaarverslae van die afgelope dekade toon Badminton se vergoeding was heelwat minder as Summers s’n. Dit is omdat sy prestasiebonusse baie kleiner was. Hy het twee van die afgelope vyf jaar nie ’n prestasiebonus gekry nie.

Badminton se gemiddelde jaarlikse vergoeding (opsies uitgesluit) was in die vier jaar voor sy bedanking (2008 tot 2011) nagenoeg R4,8 miljoen. Summers s’n was in die vier jaar voor sy bedanking (2003 tot 2006) sowat R9,8 miljoen.

Summers het in dié tyd ’n gemiddelde prestasiebonus van R6,18 miljoen gehad. Badminton het in die vier jaar voor sy
bedanking ’n gemiddelde bonus van minder as R900 000 gekry.
 
Lees meer oor:    pick n pay
«Terug