Kaapstad. – ’n Timberland-winkel wat uitsluitlik op die vrouemark fokus, het pas in die Hyde Park-winkelsentrum in Johannesburg sy deure oopgemaak.
Die winkel is die eerste in sy soort ter wêreld.
Timberland se vrouereeks word wêreldwyd saam met die mansprodukte verkoop. Die winkel in Hyde Park is deel van die groep se strategie om in sekere markte sy vroueskoeisel en -bykomstighede te skei van die mansaanbod deur onafhanklike winkels te skep.
Die Timberland-groep van Amerika is bekend om handelsname soos Timberland PRO, Mountain Athletics en Timberland Boot Company.
Timberland is ook die nuutste internasionale handelsnaam wat in Suid-Afrika ’n stewiger vastrapplek kry. Internasionale kleinhandelaars soos Zara van Spanje, Gap van Amerika en Hackett van Brittanje het sedert die begin van die jaar hier nesgeskop.
Die wêreldwye ekonomiese omgewing noop internasionale spelers in die kleinhandelbedryf om verder na bykomende groei te soek as wat hul tradisionele mark bied.
Hulle brei dus toenemend uit in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika wat goeie groeigeleenthede bied.
Suid-Afrika se toenemende gewildheid kan ook daaraan toegeskryf word dat ondernemings dit as ’n goeie vastrapplek vir verdere uitbreiding in Afrika beskou.
Volgens bedryfspelers is daar ook potensiaal in die hoërinkomstemark hier. Die afgelope tien jaar is gekenmerk deur kleinhandelaars wat bekostigbare handelsname dryf, maar die aanbod vir die bopunt van die mark was kleiner.
Tog is daar steeds welgestelde inkopiegangers in die medium- tot premium-modemark. Dié klante is bereid om ’n premie vir gehalte en erkende internasionale handelsname te betaal.
Moosa Mayet, hoofbestuurder van Timberland Suid-Afrika, sê die winkel in Hyde Park is ontwerp om omgewingsvriendelik en energiedoeltreffend te wees. Dit behels onder meer Eco-gesertifiseerde vloerteëls, konstruksie en onderhoud met ’n lae omgewingsimpak en nuwe tegnologie in beligting.