Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Weggooi-goed vir die speelkamer-vloer

Deur: Carin Smith 2012-02-20 05:00
Kaapstad. – Die 24 m²-speelkamer van Anthea Peters se plek van veiligheid – ’n deel van die Eersterivier-bemagtigingsentrum in die stad – spog met ’n splinternuwe vloer van sowat 25 000 herwonne kurkproppe.

Die kurkproppe – hoofsaaklik afkomstig van wyn- en slaai­bottels – is deel van sowat 40 000 herwonne kurkproppe wat sedert Oktober verlede jaar as deel van ’n korporatiewe maatskap­like projek deur die Vineyard-hotel-en-spa in Nuweland ingesamel is. Die projek is deur mnr. David Wibberley, die hotel se spyseniersbestuurder, begin in samewerking met Amorim Cork SA en CFS Flooring.

Wibberley het die projek begin nadat hy gelees het hoe dikwels brande in informele nedersettings ontstaan weens die gebruik van paraffienstofies.
“Kurk is nie net baie vuur­bestand nie, maar is ook elasties, duursaam en veroorsaak nie maklik allergieë nie,” sê Wibberley.

Die projek het groot steun gekry van hotelgaste asook verskeie wynplase met wie die hotel in vennootskap is.

Die hotel se vyf wynvennote, Klein Constantia, Waterford, Simonsig, Warwick en Meerlust, neem deel aan die projek sowel as ander wynplase soos Groot Constantia, Villiera, Buitenverwachting, Boschendal en Cape Point Vineyards.

Sommige van hulle het selfs versamelpunte in hul kelders waarin besoekers gebruikte kurkproppe kan plaas.

Die hotel se volgende ­kurk-projek is waarskynlik die lê van ’n kurkvloer vir ’n tehuis vir gestremdes.

Dit het ’n oppervlakte van 100 m² en die hotel se gaste, personeel en wyn-vennote is ywerig besig om sowat 100 000 kurkproppe daarvoor in te samel.
  Sake
Lees meer oor:    groen
«Terug