Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Afrika-landbou kan blink in 2013

2012-12-22 22:41
Ondanks ’n steeds wisselvallige landbousektor meen kenners die sektor gaan in 2013 van sy uitdagings oorkom.

Prof. Mohammad Karaan, dekaan van die Universiteit van Stellenbosch se fakulteit landbouwetenskap en ’n lid van die Nasionale Beplanningskommissie, sê ondanks wisselvalligheid in produk­pryse is die vooruitsig gunstiger as in die verlede. Hy verwag landbou in Afrika gaan herleef om voordeel te trek uit geleenthede in die mark.

“Die landbou kan wisselvalligheid in sekere kommoditeite en ’n relatief klein voorraad basiese kommoditeite te wagte wees,” sê Karaan.

“Dit sal gepaardgaan met arbeids­onrus en -eise. Danksy gunstiger markte en ’n groter aanbod sal pryse na verwagting steeds laer wees, maar wel ­hoër as die gemiddelde pryse op lang termyn. Die aanbod sal groei, omdat groot voedselprodusente aangemoedig word om meer te produseer en voorraadvlakke sal dus volgehou kan word.”

Hy meen die grootste uitdagings vir die landbousektor is die lok van beleggings en die ontwikkeling van infrastruktuur. Vordering met eko­logies volhoubare praktyke en ’n ver­hoging in produksie is noodsaaklik.

Transaksiekoste moet gestabiliseer word en boerderybedrywighede moet weer winsgewend raak. Arbeidsverhoudinge moet verbeter en politieke en beleidsprobleme moet oorkom word.

Karaan is ook ’n strategiese raadgewer van Agri-Vie, ’n private-ekwiteitsfonds wat in voedsel- en agri-bedrywighede in Afrika suid van die Sahara belê.

Herman Marais, besturende vennoot van Agri-Vie, sê dis belangrik om beleggersvertroue op ’n positiewe beleggingsklimaat te grond.

Die groeiende beleggingsvloei na voedsel- en landboubedrywighede is vir hom ’n bewys dat private-ekwiteitsbeleggings kan help om die uitdagings met plattelandse ontwikkeling en voedselsekuriteit die hoof te bied.

“Die uitdagings vir internasionale voedselproduksie maak beleggingsgeleenthede in Afrika se landbousektor noodsaaklik, veral omdat dit bydra tot werkskepping, groter voedselsekuriteit, minder armoede, beter vaardighede en die skep van inkomste,” sê Marais.

“Private-ekwiteitsbeleggings in landboubedrywighede ondersteun die ontwikkeling van infrastruktuur.”

Volgens Karaan moet regerings die ­leiding neem deur middel van deur­sigtige beleid, konsekwentheid en doeltreffende aansporings.

’n Gunstiger handelstelsel wat groei­ende nywerhede steun, ondersteuningsmeganismes bied en arbeidsintensiewe industrialisering aanmoedig, is nodig, asook laer belasting en laer koste om handel te dryf.

“Die leiers in die landbouhandelsektor moet slimmer gebruik maak van maat­reëls om landbourisiko’s te verminder. Hulle moet ’n groter invloed oor die waardeketting uitoefen en fokus op waardeproposisies in meer ontwikkelde lande soos Suid-Afrika.”

Gebiede in Afrika wat meer geïndus­trialiseerd is, moet gekonsolideer word met belangrike markte.

“Dit sal lei tot beter infrastruktuur en ’n volhoubare landbousektor,” sê Karaan. Hy glo Afrika kan hierdie uitdagings oorkom.



Lees meer oor:    landbou  |  plase
«Terug