Bloemfontein. – Die ANC se pas afgelope Mangaung-konferensie het geen beleggingsekerheid vir die landbou gebring nie.
Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA, het Vrydag by navraag gesê die organisasie is uiters teleurgesteld. “Nes in Polokwane destyds is die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper aangeval, maar weer eens is geen woord gerep oor die totaal wanfunksionele departement (van landelike ontwikkeling en grondhervorming) en sy onbevoegde amptenare nie.”
Agri SA het aanvanklik gehoop die konferensie sal ’n waterskeiding bring in die landbou en veral die vrae beantwoord wat beleggingsvertroue kniehalter, soos die skrapping van die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper en die bepaling van ’n “billike en regverdige” waarde deur die grondwaardeerder-generaal, soos in die groenskrif oor grondhervorming voorsien word.
Agri SA waarsku reeds die afgelope jare herhaaldelik dat beleggers afgeskrik gaan word as markwaarde laat vaar word, want hoe word die waarde van grond dan werklik gemeet
Uitsprake oor die nasionalisering van grond, die moontlike beperking op die hoeveelheid grond wat ’n boer mag hê, onteiening en hoe die waarde van grond voortaan bepaal gaan word, bring geweldige onsekerheid in die sektor.
Hoewel die ANC se ekonomiese-transformasie-kommissie verlede week op ’n mediakonferensie gesê het nasionalisering in die breë is van die tafel, is daar tog benadruk dat dit in sekere strategiese sektore kan geskied, mits die bewyse dit vereis.
Thaba Mufamadi, ANC-lid en voorsitter van die staande komitee oor finansies, het gesê die ANC is nie gekant teen markverwante pryse nie. Die kommissie het egter ’n resolusie aanvaar dat ’n bemiddelingsproses begin word om sekerheid te gee. Dit sluit in wat “billikheid” beteken in die lig van die “onafhanklike grondwaardeerder”.
Hy het toegegee die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper is problematies en ’n struikelblok vir grondhervorming.
Trevor Manuel, minister van beplanning, het egter vroeër in die week van die konferensie op ’n ontbytsessie van die ANC se Progressive Business Forum gewaarsku die foute van die verlede mag nie herhaal word nie.
Dis volgende jaar honderd jaar sedert die inwerkingstelling van die Naturelle- en Grond-wet van 1913, wat swart mense hul grondregte ontneem het.
Die regering wil 30% van die vrugbare landbougrond wat in wit besit is, teen 2014 na swart besit oordra. Maar dis alombekend dat die regering aanvaar die teiken sal nie bereik kan word nie.
Manuel het dié siening beaam.
Hy het verder die treurige prentjie van grondhervorming sedert demokrasiewording op grondvlak geskets.
“Kom ons verander dit. Kom ons hanteer die kwessies anders. Ons kan nooit die verantwoordelikheid om grondhervorming af te handel, vermy nie.”
Hy het gesê daar moet meer gepraat word, veral in die lig van die eise wat die 100-jaar-herdenking van die 1913-wette gaan stel.
“Kyk na die landbou – die winsmarges is vir die meeste landbouers nie groot nie. Ons moet sensitief wees oor die kwessies. Die landbou verskaf werk, maar dit moet ook gepaardgaan met ’n behoorlike lewenspeil (vir plaaswerkers). Boere moet sensitief wees. Maar slagspreuke (met verwysing na die plaasonrus in De Doorns) gaan nie die mense help nie,” het Manuel gesê.

Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA.
Foto: CHARL DEVENISH