Suid-Afrika voer rys ten duurste in, maar hy het die vermoë om dit
self te kweek.
Al wat kort, is ’n stelsel waarvolgens verwerkers en
kleinhandelaars die rys van die produsent na die verbruiker neem. In dié proses
kan die land miljarde rande bespaar én werkgeleenthede skep.
Op die afgelope ryskonferensie in Durban het dit aan die lig gekom
dat Brasilië die gaping raakgesien en begin het om 1 000 ton rys per maand na
Suid-Afrika te verskeep.
Thailand verskaf sowat 75% van Suid-Afrika se rys.
Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) sê die rys wat uit
Thailand ingevoer is, het Suid-Afrika verlede jaar R3,4 miljard gekos.
Mnr. Tobie Visser, uitvoerende hoof van Upland Rice Company, sê die
waarde van die land se totale rysinvoer beloop R5,4 miljard.
Die verwagting is dat die vraag na rys gaan toeneem namate die
swart middelklas groei en mieliemeel plek maak vir rys en brood as
stapelvoedsel.
Die Amerikaanse departement van landbou raam dat Suid-Afrika se
rysbehoefte sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 verdubbel
het.
Suid-Afrika kan 50 000 hektaar met
rys beplant en met ’n opbrengs van 5 ton ongepelde rys per hektaar kan ongeveer 160 000 ton rys gelewer word, sê
Visser.
Tans kan R3 500 per ton skoongemaakte
rys behaal word. Omgeskakel in opbrengs per hektaar, kan die produsent meer as R17 500 per hektaar
verdien.
Visser sê met sekere kultivars kan
die rys met dieselfde hoeveelheid water verbou word as koring. In die verlede is
rysverbouing in Suid-Afrika in die wiele gery as gevolg van die hoeveelheid
water wat nodig is om die ouer kultivars te kweek.
Visser sê indien die Suid-Afrikaanse bedryf, wat tans nog in sy
kinderskoene is, die struikelblok van bemarking uit die weg kan ruim, kan daar teen
Februarie volgende jaar 4 000 hektaar rys geplant word wat ’n bydrae van 20 000
ton tot die plaaslike mark kan lewer.
Een van die loodsprojekte is die poging van mnr. Alfons Visser van
Hartswater wat volgens Landbouweekblad
33 hektaar rys onder ’n spilpunt verbou het.
Hy het sy tevredenheid met sy eerste oes uitgespreek en glo dat dit
beter sal gaan namate hulle meer leer oor die verbouing van rys.
Dit blyk dat die plaaslike rysbedryf nie op dreef kom nie omdat
daar geen hulp is met die vestiging van die nodige bemarkingsraamwerk nie.
Suid-Afrika se groot voedselmaatskappye, soos Tiger Brands en
Pioneer Foods, wat die meeste rys invoer, blyk ook nie gewillig te wees om
plaaslike rys te koop nie.
Benewens die besparing aan buitelandse valuta wat die plaaslike
verbouing van rys kan meebring, kan dit ook werk skep.
Volgens Tobie Visser is dit ook die ideale gewas vir
kleinboere.
Rys bied ook ’n alternatief as stapelvoedsel vir mielies, waarvan
die prys die afgelope paar maande deurlopend gestyg en begin raak aan die
prysvlakke van 2008 wat dit buite die bereik van baie mense geplaas het.
Sake