Suid-Afrika se landboubedryf sal na verwagting oor die volgende dekade aanhou groei, maar nie teen ’n hoë koers nie.
Só lui ’n verslag van die Universiteit van Pretoria se buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP).
Die verwagtinge is daarop gegrond dat daar in die volgende dekade nie ernstige veranderings in weerpatrone of die ekonomie is nie.
Die buro verwag dat groeikoerse van die wêreld se groot ekonomieë (gemeet as bruto binnelandse produk, of BBP) van 2013 af stadig sal daal.
Suid-Afrika se BBP sal na verwagting styg tot 4,2% in 2016 en daarna daal tot net onder 4% teen 2021.
Die produksiegebied van oesgewasse kan met sowat 300 000 ha styg in die volgende 18 maande weens die ernstige droogte in die VSA.
Vee- en suiwelprodusente sal in dié tydperk onder druk kom weens hoër graanpryse.
Vir graanboere sal die inkomste van oesgewasse vanjaar na verwagting met 6,3% styg en volgende jaar met 13%.
Die oorskakeling van stapelvoedsel van mielies tot brood, pastas, aartappels en rys sal die vraag na produkte soos koring en aartappels in die volgende dekade met tussen 18% tot 20% laat groei, maar die vraag na mieliemeel sal stagneer.
Die vraag na beesvleis sal waarskynlik jaarliks met sowat 3% styg en dié na hoender met 4%.
Die produksie van hoendervleis en eiers sal egter in dié tydperk met 29% styg.
Die buro het sy kommer uitgespreek oor mynboubedrywighede wat lei tot ’n verlies aan landbougrond.