Johannesburg. – Soos altyd wanneer die hulpbronsiklus afswaai, word die ergste verwag wanneer Anglo American Vrydag tussentydse resultate bekend maak, maar aandeelhouers hoop dat sy steenkoolbelange en koperproduksie kan keer dat Anglo se dividend weer opgeskort word soos in 2009.
Die vrot kol in Anglo se portefeulje is uiteraard Anglo American Platinum (Amplats), waar Neville Nicolau, uitvoerende hoof, Donderdag sy kantoor ontruim het.
Nicolau het bedank ná ’n winsverklaring Woensdag dat Amplats se verdienste in dié tyd 78% laer gaan wees – heelwat erger as wat verwag is.
Amplats maak sy tussentydse resultate vanoggend bekend en ontleders verwag dat sy tussentydse dividend minder gaan wees of opgeskort kan word.
Die prys van platinum was Vrydag $1 414 per ons teenoor ’n gemiddelde prys van $1 789 per ons in die eerste helfte van verlede jaar.
Nicolau se vertrek só kort na die teleurstellende winsverklaring skep die indruk dat hy daaroor weg is, maar Cynthia Carroll, Anglo se bestuurshoof, het egter verlede week in onderhoude ná Nicolau se vertrek lof gehad vir die kostebeheer waarop hy hom toegespits het in die vier jaar wat hy die maatskappy gelei het.
Hy is waarskynlik weg weens verskille met Anglo American oor ’n hersiening van Amplats se bates wat in Februarie begin het en eers einde vanjaar afgehandel sal wees.
Nicolau het tot onlangs nog volgehou dat min van Amplats se skagte en ander afdelings gesluit behoort te word omdat daar min werklike verliese is, maar Anglo se aandeelhouers verwag ’n hoër opbrengs op die bates.
’n Verlies word dus nie by Amplats verwag nie, hoewel die oorhoofse uitgawes van sy onderbenutte verwerkingsaanleg altyd hoog is.
Anglo het Vrydag ook ’n kwartaallikse produksieverslag bekend gemaak wat effens beter is as wat ontleders gedink het dit gaan wees.
Platinumproduksie by Amplats het daarvolgens met 3% gedaal tot 623 000 onse.
Volgens die produksieverslag het die produksie van metallurgiese steenkool in die kwartaal met 23% gestyg.
Produksie van koper het met 7,2% gestyg tot 161 000 ton danksy die opbou van produksie in die nuwe uitbreidings by die groep se Los Broncos-myn in Chili.
Produksie van ystererts het met 12% gestyg tot 12,9 miljoen ton.
Kumba was verlede jaar Anglo se grootste geldverdiener, maar sy winsgewendheid het gedaal weens hoër produksiekoste en ’n daling van $35 per ton in ysterertspryse tot $134 per ton in dié halfjaar.
Sy tussentydse dividend was in dié halfjaar 11,5% minder.
Die groep se metallurgiese steenkool-afdeling, wat in Australië produseer, was in 2009 die enigste ligpunt in die groep se vertoning.
De Beers, wat ook verlede jaar uiters goed presteer het, het Vrydag bekend gemaak dat sy onderliggende verdienste in die halfjaar met 42% gedaal het tot $385 miljoen.
Dis ’n skerp daling, maar is minstens nie verliese soos in 2009 nie.
De Beers was destyds ’n swaar juk vir Anglo, maar behoort ná die verkryging van die Oppenheimer-familie se oorblywende 40% ’n belangrike kontantbron vir Anglo te word.
Die skrywer hou aandele in Anglo American.