Harmony Gold het een van sy Suid-Afrikaanse myne ’n dag vroeër vir die feestyd gesluit nadat skote gevuur is gedurende ’n betoging oor die skorsing van werknemers.
“Daar was vanoggend geweld en skade aan myninfrastruktuur op die oppervlak aangerig,” het Henrika Basterfield, ’n woordvoerder van die maatskappy, gesê.
“Daar was sommige in die skare wat skerp ammunisie op die polisie geskiet het en hulle het met rubberkoeëls gereageer.” Sommige mense is beseer, het sy gesê sonder om besonderhede te gee.
Die botsing by die Kusasalethu-myn suidwes van Johannesburg volg op die skorsing van 578 werknemers, onder wie party kontrakteurs, wat deelgeneem het aan ’n ongemagtigde staking op 15 Desember, het die maatskappy in ’n verklaring gesê.
Die versoeke van die werkers wat betrokke was by die stakings is nie duidelik nie, het Basterfield gesê.
Kusasalethu is Harmony se grootste myn.
“Ons het dit duidelik gestel dat geen geweld geduld sal word nie en om die veiligheid van ons werknemers te verseker, het dit noodsaaklik geword om die skag te sluit totdat die arbeidskwessies opgelos is,” het Tom Smith, Harmony se uitvoerende bedryfshoof, in die verklaring gesê.