MySake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Indiese groep open SA kantoor

Deur: Johan Brits 2012-06-18 05:00
Johannesburg. – Kerse wat om ’n groot goue pou gepak is, is aangesteek om voorspoed en geluk vir ’n nuwe mededinger in die verskaffing van mynboutoerusting in Suid-Afrika te bring.

Die gediversifiseerde staats­beheerde Indiese groep Beml het sy eerste Afrika-kantoor in Johannesburg opgerig en gaan met verskaffers van mynboutoerusting soos Caterpillar, Komatsu en Volvo op die vasteland meeding.

Beml wil die regering as een van sy kliënte hê, het Nagendra Kumar, assistent-hoofbestuurder van Beml, in ’n onderhoud met­ Sake24 gesê.

Kanyana N. Bhat, internasio­nale bemarkingshoof van Beml, het by navraag gesê geen kontrak is nog met die Suid-Afrikaanse regering beklink nie.

Kumar sê daar word op Beml se produkte van goeie gehalte gesteun om ’n vastrapplek in die Afrika-mark te kry.

Daarby het Beml nóg ’n voorsprong – hy bied naverkopediens aan omdat die meeste Chinese verskaffers nie verbind is tot naverkopediens nie.

Benewens verskeie soorte groot masjinerie en voertuie vir mynmaatskappye verskaf Beml produkte aan die konstruksie- en vervoerbedryf.

Beml het reeds produkte aan dele­ van die vasteland begin verskaf.

Bhat het verlede week gesê met ’n kantoor in Johannesburg kan die maatskappy ’n groter hap van die koek in die mynbou-, konstruksie- en spoorvervoerbedryf in Afrika kry.

“Johannesburg is die ideale plek waarvan markte in Zimba­bwe, Zambië, Botswana, Mosambiek en Tanzanië saam met Suid-Afrika bedien kan word.

“Johannesburg gaan ons verbindingspunt wees.”

Kumar het gesê Afrika het volop spoorvervoergeleenthede en die groot infrastruktuurplanne van die regering bring groot geleenthede mee.

Volgens Kumar kan Beml later ’n verskaffingsentrum in Afrika oprig.

“Vir eers begin ons met verteenwoordiging deur ’n kantoor op te rig. Ons hou die vraag dop voordat ons die verskaffingsentrum oprig.”

Kumar sê die maatskappy gaan ook toerusting aan die private sektor verskaf.

Beml voer reeds toerusting na 55 lande uit en het handelsbedrywighede in 13 Afrika-lande.

Die maatskappy se uitvoer is in 2011-’12 op $205 miljoen gewaardeer.

’n Simboliese goue pou is op die bekendstelling met kerse omring en aan die brand gesteek.

Virendra Gupta, hoë kommissaris van Indië in Suid-Afrika, het ná die seremonie gesê hy het vertroue dat Beml marktoestande sal kan trotseer en sterk kan staan in Afrika.

Beml is in 1964 gestig en in 1992 in Indië genoteer. Die Indiese regering besit op die oomblik ’n 54%-belang.
 
Lees meer oor:    indië  |  myne
«Terug